‘Doyen’ van joernalistiek Arrie de Beer sterf

Prof. Arrie de Beer. (Foto: Adriana Botha/Facebook)

Huldeblyke stroom in ná die dood van Arrie de Beer, buitengewone professor in die joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) en voormalige subredakteur van Die Burger.

De Beer is Woensdagaand dood. Hy was 79 jaar oud.

De Beer is beskryf as ʼn “gewaardeerde vriend en mentor” wat diep spore in die joernalistiek getrap het.

Sy navorsingsvelde het ingesluit die rol van die media in die Suid-Afrikaanse samelewing, die vloei van nuus en joernalistiekopleiding. Hy was die Afrika-koördineerder van die Worlds of Journalism Study, volgens die US die grootste internasionale navorsingsprojek wat handel oor die rol van joernaliste.

De Beer was van 2010 tot 2016 hoof subredakteur van Die Burger. Hy was ook redakteur van Global Journalism en redakteur van die Ensiklopedie van die Wêreld, voor hy op die akademie gekonsentreer het.

De Beer het ʼn ongelooflike bydrae tot die joernalistiek gelewer en was onder meer hoof van die Kommunikasiedepartement by die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Noordwes op Potchefstroom, asook waarnemende hoof van die Universiteit van Johannesburg.

Hy is ʼn voormalige lid van die SAUK-raad, die Suid-Afrikaanse Persraad en die appèlkomitee van die SA Persombudsman. De Beer is ʼn voormalige ontvanger van die Stalsprys vir kommunikasie wat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toeken en ʼn buitengewone professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

De Beer se dogter, Adriana Botha, het in ʼn Facebook-inskrywing gesê die laaste paar jaar saam met hul pa was besonders.

“Die Here se genade was groot om hom stil in sy slaap huis toe te neem.

“Ek sit nou en dink … Dis die een ding wat Pappa toe nooit self kon doen of reël of skryf nie. Familie, vriende, kollegas en Jan Publiek gaan sy laaste woorde namens hom publiseer.”

Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad en skrywer van verskeie boeke, het De Beer beskryf as “baanbreker in die akademiese professionalisering van die beroep” en ʼn man wat ʼn groot bydrae oor ʼn lang tydperk gelewer het.

“Hy laat ʼn groot leemte aan kennis, insig en begrip.”

Oudstudente het ook hulde aan hom gebring.

“Prof. Arrie de Beer, of prof. Arrie, soos sy studente hom geken het, was my joernalistiekdosent in my honneursjaar aan die voormalige PU vir CHO,” skryf Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, in ʼn huldeblyk aan De Beer.

“Ons was tien joernalistiekstudente en met sy leiding het ons ons heel eerste publikasie, ʼn tydskrif, Greep, aanmekaargesit. Maar hy het ons veel meer as dit geleer, soos dit gaan met ʼn prof wat sy sout werd is. Toe die sperdatum vir ons projek naderkom, het ons vir ʼn week of wat so te sê ons intrek in hul huis geneem en ons tydskrif om hul eetkamertafel klaargemaak.

“Daar het ek veel meer van tydskrif-uitgee geleer as in enige akademiese klas.

“Vir my het hy (met effense irritasie, maar absolute toewyding) geleer om selfhandhawend te wees; om te sê wat ek wil hê sonder om askies te vra.

“Prof. Arrie se afsterwe is ʼn reuseverlies, vir die joernalistieke bedryf, die akademie én persoonlik vir die mense wat hom geken het.”

Die joernalis De Wet Potgieter het De Beer as “een van die grootste doyens van die joernalistiek” bestempel.

“Die joernalistieke toneel en veral die Afrikaanse akademiese deel is nou soveel armer. Soveel uitsette en sy onblusbare energie sal kwalik geëwenaar kan word,” skryf dr. Pedro Diederichs, voormalige hoof van die Joernalistiekdepartement van die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT), in ʼn huldeblyk aan De Beer.

Talle ander joernaliste wat opleiding by De Beer ontvang het, het ook hulde aan hom gebring.

De Beer se vrou, Nicolette, is in Mei 2017 weens kanker dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.