60-jarige gee homself oor ná ‘heksery’-beskuldiging

Argieffoto (Foto: Tracey Adams/African News Agency/ANA)

ʼn 60-jarige man het homself aan die KaMhlushwa-polisie in Mpumalanga oorgegee ná hy glo ʼn 78-jarige man doodgeskiet het. Die man het die 78-jarige van heksery beskuldig.

“Volgens inligting was die oorledene Saterdagoggend omstreeks 09:30 op die verdagte se perseel toe die verdagte hom weggejaag het,” sê brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie.

“Daar was ʼn argument, maar die slagoffer het uiteindelik die perseel verlaat. Die verdagte het hom vir ʼn ruk lank agtervolg waar hy uit woede die man in sy bolyf geskiet het.”

Volgens die verdagte het die slagoffer ʼn sweep by hom gehad en hy wou hom aanval, daarom het hy skote met sy gelisensieerde vuurwapen gevuur.

Die verdagte het homself aan die polisie oorgegee en ná beamptes die misdaadtoneel besoek het, is die verdagte in hegtenis geneem op aanklag van moord.

Die oorledene is as Samuel Mahleba uitgeken deur sy familie.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Nkomazi-landdroshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.