Aanklaer swyg glo oor seksuele oortreding teen kind

Die landdroshof op Humansdorp. (Foto: Google Images)

’n 54-jarige streekhofbeheeraanklaer het Maandag in die landdroshof op Humansdorp in die Oos-Kaap verskyn op aanklagte dat sy glo versuim het om ’n seksuele oortreding teenoor ’n kind aan te meld.

Vicky Rossouw word daarvan beskuldig dat sy artikel 54(1)(a) van die Wet op Seksuele Oortredings, 32 van 2007, oortree het, wat bepaal dat enige persoon wat kennis dra van ’n seksuele oortreding teenoor ’n kind, die beweerde voorval by die polisie moet aanmeld.

Die staat voer aan dat Rossouw glo bewus was dat verkragting, bloedskande en seksuele aanranding teenoor ’n kind gepleeg is, maar dat sy versuim het om dit dadelik by die polisie aan te meld.

Sy is op waarskuwing vrygelaat en die saak is tot 28 November uitgestel sodat verdere ondersoek gedoen kan word.

Luxolo Tyali, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê die saak word in ’n baie ernstige lig beskou. Daar is ook met interne arbeidsprosesse teen Rossouw begin.

“Die vervolging van hierdie saak teen een van ons eie, is ’n duidelike aanduiding dat indien daar genoegsame bewyse is dat ’n misdaad gepleeg is, die NVG dit sonder vrees, guns of vooroordeel sal vervolg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Realis Thailand ·

Hoeveel ander mense steek dit ook weg. Die meeste mense wil nie betrokke raak nie of voel verkeerdelik jammer vir die oortreder. Maak my siek om dit te lees.
Sy het goed geweet sy moet dit aanmeld.
Ek hoop die reg geskied hier
Die wet moet ook wyd adverteer word sodat die mense weet daarvan want min mense weet van die oortreding wat hulle pleeg deur versuim om so n oortreding aan te meld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.