Agri SA wil land as nasionale rampgebied verklaar

Johan Möller, president van AgriSA

Johannes Möller, president van AgriSA

Agri SA het gevra dat die land as ʼn nasionale rampgebied verklaar moet word.

“Agri SA verwelkom Des van Rooyen, die minister van samewerkende regering, se aankondiging dat agt provinsies as droogterampgebiede verklaar word,” het Johannes Möller, president van Agri SA, gesê. “Hierdie aankondiging, tesame met die mosie wat deur die parlement aanvaar is om die droogte as ʼn nasionale ramp te verklaar, lê die basis vir omvattende finansiële- en humanitêre steun deur die regering.”

Möller het gesê dit is nou van kritieke belang om voedselsekerheid vir elke huishouding te verseker. “In dié verband het die regering en georganiseerde landbou ʼn instrumentele rol te vervul om die volhoubaarheid van voedselproduksie deur en die behoud van werksgeleenthede in die landbousektor van elke provinsies te optimaliseer sowel as om produsente se produksiebasis te beskerm en daardeur Suid-Afrika se voedselsekerheidstatus te behou.”

Hy het verduidelik met die volgende plantseisoen om die draai is regeringshulp nou dringend nodig om landbouers in staat te stel om aanplantings op groot skaal in die nuwe plantseisoen te kan doen. Veevrektes het ook voorgekom en dit is ook nodig om veekuddes aan te vul oor die volgende 12 tot 18 maande.

“Finansiering word ook vereis om landbouers met hul oorlaatskuld by te staan. Dit sal hulle in staat te stel om vinnig te herstel en met produksie na die droogte te begin,” het hy gesê.

Möller het gesê groot kommer heers egter in die Wes-Kaap waar veral die te wagte reënval in die Swartland- en Weskusstreek nog nie gerealiseer het nie. ʼn Tekort aan veevoer gedurende die winter in somerreënvalgebiede is ʼn verdere kopseer wat ook met uitgebreide regeringshulp oorkom kan word.

“Agri SA doen ʼn beroep op die regering om finansiële hulp so spoedig moontlik aan landbouers beskikbaar te stel. Georganiseerde landbou wil ook meewerk om veral voer- en ander vorme van humanitêre hulp so effektief en doeltreffend moontlik op plase uit te kry,” het Möller gesê.

Agri SA is reeds sedert November 2015 besig om die algemene publiek en privaatsektor te mobiliseer om voer en ander vorme van humanitêre hulp te skenk. Ongeveer 20 000 kommersiële- en opkomende boere is reeds gehelp. Met die hulp van die kleinhandelsektor is kospakkies en gebottelde water aan plaaswerkergemeenskappe versprei.

“ʼn Goed gekoördineerde poging en samewerking tussen al die rolspelers is nou nodig om voedseltekorte en sosio-maatskaplike krisisse te beperk. Landbouers moet egter nie hoop verloor nie, want ʼn noemenswaardige verswakking in die El Niño-verskynsels word deur weerkundiges voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Flippie ·

Ou Johannes, die land is ‘n ramp. As jy hoegenaamd dink dat hierdie regering enigsins blanke boere op enige manier gaan bystaan, maak jy ‘n rampspoedige fout.

Hierdie droogte is die troefkaart in die regering se hand en julle weet dit, maar wil dit nie glo nie. Dit is tyd DST julle wakker word en beset dat blanke boere alleen en op hulle eie is – ongeag wat julle glo.

Johannes Meintjes ·

Na mening is dit ‘n verantwoordelike oproep aan die regering. Daar is tans veels te veel dinge verkeerd in SA wat bloot op onverantwoordelike wyse ge-ignoreer word, veral ook in en om die landbou.

Sam ·

God is nie teen Suid Africa nie maar is defnitief nie met Suid Afrika maar vir die wat in hom glo

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.