Alouette II vs. Gautrein …

Dit was Gautrein teen die lugmag (en die lugmag het lag-lag koning gekraai). (Foto: SA Lugmag)

Merke, gereed … Dit was Gautrein teen die lugmag (en die lugmag het lag-lag koning gekraai).

En hoewel jy dalk nie met ʼn helikopter na die lugmag se jaarlikse skou in Pretoria gekarwei kan word nie, kan jy die Gautrein en sy busse (effens stadiger, toegegee) hierdie naweek vir seker gebruik om jou besoek aan die lugskou veel makliker te maak.

Maar eers die resies.

Die lugmag sit sy beste voet voor vir die naweek se lugskou, ʼn groot geleentheid op die lugvaartkalender. Vandeesweek se resies tussen ʼn Alouette II van die Lugmagmuseum en ʼn Gautrein-trein tussen Midrand en Centurion, was deel van die bemarkingsveldtog vir dié skou. Dit was natuurlik ook ʼn platform om sommer al voor die skou met die lugmag se vaardighede en die museum se besonderse aanbod te spog.

Genl.maj. Mayenzeke Matanda, adjunklugmaghoof, sê deur lugvaartbewusmaking probeer die lugmag nasionale trots in die Suid-Afrikaanse Lugmag handhaaf.

Selfs nog meer, speel die lugskou ook ʼn deurslaggewende rol om ʼn broodnodige inkomste te genereer wat gebruik word om die lugmag se vliegtuie te herstel, te restoureer en in die lug te hou. Die geld word ook aangewend om vliegtuie wat nie meer vlieg nie as statiese uitstallings vir toekomstige geslagte te bewaar.

Die opwindende lugresies was ʼn lusmaker vir wat Saterdag op besoekers aan die lugskou wag, sê Matanda. En die lugmag het ná die oorwinning beslis spogregte.

(Foto: SA Lugmag)

Die Gautrein is die lugskou se amptelike vervoervennoot en bied ʼn gratis midibusdiens vir kaartjiehouers tussen die Gautrein se Centurion-stasie en die Swartkop-lugmagbasis op die dag van die lugskou.

“Gautrein wil hom posisioneer as die voorkeur-vervoerdiens in die provinsie, terwyl ons verskeie sleutelgeleenthede – of dit nou vir werk, pret of vermaak is – ondersteun,” sê Tshepo Kgobe, uitvoerende hoof van die Gautrein-bestuursagentskap.

“Die vennootskap wil die gebruik van openbare vervoer na geleenthede bevorder, terwyl ons gemeenskappe in staat stel om die lugmagbasis en museum, wat hulle dalk nie normaalweg sou kon besoek nie, te verken.”

Gautrein het ook met die lugmag hande gevat om kinders aan die wonder van vlieg bloot te stel en die moontlikheid van loopbane in hierdie veld aan hulle te demonstreer.

  • Die lugskou vind plaas op Saterdag, 4 Mei 2024, en duur van 07:00 tot 17:00.
  • Midibuspassasiers moet ʼn kaartjie na die lugskou kan toon om gratis van die busdiens gebruik te maak.
  • Die eerste Gautrein-midibus vertrek Saterdag om 06:00 van Gautrein se Centurion-stasie.
  • Busse vertrek hierna elke 30 minute tussen die Swartkop-basis en die stasie.
  • Die laaste midibus vertrek om 18:00 by Swartkop.
  • Op- en aflaaipunte vir die busdiens is by die Swartkop-lugmagbasis se hoofingang.
  • Standaardtrein- en parkeertariewe vir Gautrein geld.

(Foto: SA Lugmag)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

So die army wil wat oor is van sy “lugmag” op ‘n “skou” wys, sodat hy kan geld inkry om dit te onderhou? WHAHAHHAHAHAHAHHAH!!!!!!!

Manie ·

@Johan, die SANW bestaan uit die Leër (Army) Lugmag (SA Air Force), Vloot (SA Navy) en die SAGD (SA Geneeskundige Dienste of Medics ) Die Army het nie ‘n Lugmag nie.

Di ·

Daar is GEEN trots meer in die Weermag nie! Niks is meer in werkende toestand nie

Hexadane ·

Dit is beslis nie meer wat dit was 20 jaar gelede nie… sal maar van my huis af kyk :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.