Baanbrekertegniek vir spinale operasies in SA uitgevoer

Die span wat die operasie in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal in Kaapstad uitgevoer het (Foto: Verskaf)

’n Nuwe tegniek wat tydens spinale operasies gebruik word en pasiënte se herstel radikaal kan bespoedig, is vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgevoer.

Die tegniek is eensydige bi-portale endoskopiese chirurgie (UBE) en word wêreldwyd al suksesvol tydens spinale operasies gebruik.

Die tegniek is deur dr. Shawn Venter, ’n ortopediese ruggraatchirurg in die Netcare Kuilsrivier-hospitaal in Kaapstad uitgevoer op ’n pasiënt wat ’n beskadigde werwel gehad het en gevolglik erge beenpyn ervaar het.

Ná die operasie het die pasiënt onmiddellik pynverligting ervaar en is die volgende oggend reeds ontslaan.

Volgens Venter kombineer die UBE-tegniek ortopediese en neurochirurgiese elemente in ʼn enkele prosedure.

“Dit behels die kamerastelsel wat in knie- en skouer-sleutelgatchirurgie gebruik word – deur baie klein insnydings en met geringe aanpassings – maar stel die chirurg in staat om die konvensionele en bekende oop neurochirurgiese spinale dekompressie- en samesmeltingstoerusting te gebruik om die operasie uit te voer,” verduidelik Venter.

“Daar bestaan ’n perfekte sinergie tussen buitengewone beeldmateriaal van die ruggraat- en neurale anatomie, en die vaardigheid en fynheid van neurochirurgiese tegnieke op die ruggraat. Die linkerhand bedryf die kamerastelsel en die regterhand die neurochirurgiese spinale toerusting.”

Die tegniek word uitgevoer met toerusting wat reeds beskikbaar is in private en openbare fasiliteite en geen belegging in gevorderde tegnologie hoef dus gemaak te word nie.

Dié tegniek kan gebruik word in die behandeling van spinale stenose, werwelbreuke, samesmeltings en post-operatiewe neurolise om vasgekeerde senuwees in die servikale, torakale en lumbale streke te bevry.

Voordele van die UBE-tegniek

Dr. Shawn Venter (Foto: Verskaf)

Venter sê hierdie soort operasie is voordelig omdat daar baie verminderde weefseltrauma en geen spierskade soos in die geval van groot insnydings en disseksies is nie. “Dit beteken dat pasiënte onmiddellike mobiliteit kan ervaar in die spiergroepe wat die rug ondersteun en langdurige rehabilitasie kan voorkom, wat hulle met konvensionele chirurgie sou moes deurgaan.”

Hersteltye verskil van verskillende ruggraattoestande, maar pasiënte wat UBE-operasies ondergaan, herstel oor die algemeen vinniger.

Daar is boonop ’n kleiner kans dat die pasiënt infeksie kan opdoen.

Venter sê UBE gee dokters die vermoë om te sien wat hulle voorheen nie kon sien nie, met ongeëwenaarde vermoëns in vergelyking met sekere ander tipes ruggraatchirurgie. Dit is omdat die kamerastelsel hoëdefinisiebeelde van anatomiese strukture moontlik maak, sowel as beeldmateriaal van dele in die liggaam wat glad nie tydens ander konvensionele operasies sigbaar is nie.

Benewens hierdie voordele merk Venter op dat baie pasiënte wat nie in staat is om konvensionele vorms van ruggraatchirurgie te ondergaan nie, wel UBE-chirurgie kan ondergaan. “Ons sien byvoorbeeld ʼn toename in veelvuldige ingewikkelde komorbiditeite by pasiënte wat ruggraatoperasies benodig en sommige van hierdie pasiënte het ʼn hoë risiko van narkoseverwante komplikasies. Spinale endoskopiese chirurgie het die gaping vir pasiënte soos hierdie oorbrug vir wie ʼn minder indringende vorm van chirurgiese ingryping effektief kan wees. In sekere gevalle kan UBE selfs met sedasie eerder as algemene narkose uitgevoer word.”

Venter sê die tegniek het ongeveer vyf jaar gelede in die algemene gesondheidsorg- gemeenskap gewild begin raak. Hy sou in 2020 opgelei word om die tegniek te kan toepas, maar die Covid-19-pandemie het sy planne in die wiele gery. Hy het toe in Junie vanjaar na Turkye gereis waar hy onder leiding van prof. Hayati Ay Aygün, ʼn bekende ortopediese spesialis, opleiding in die UBE-tegniek ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Casper ·

Ag siestog wys net hoe agter die tyd is piesangland.’n Chirurg sit in Amerika en doen die operasie in Frankryk d m v rekenaars.

Bennie ·

Dr Venter is n baie goeie dr..hy het my rug n paar jaar terug gedoen..puik

Waarnemer ·

En natuuflik is die koste van so n gespesialiseerde operasie heelwat duurder as die konvensionele operasie…want die dr het verder gaan studeer en jy moet nou betaal vir sy kennis.

Jaco ·

Word dié wit dr se prestasie erken? Mag hy dit hoegenaamd gedoen het? Wat dan nou van regstellende aksie en BEE? Sy ras pla my nie, maar in dié simpel anti-wit SA moet wit mense mos altyd eers seker maak oor goed wat in ander lande heel normaal is.

Lillian ·

Welgedaan dok! Een vd dae loopverlamdes ook weer as tegnologie so fluks vorder.

Sewes ·

Shawn Baie Geluk. Dit wil gedoen wees. Groete uit Potchefstroom.

Sewes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.