Beurtkrag-blaaskans met agterdog bejeën

Dr Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, Eskom

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit. (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, se vurige reaksie op skeptisisme omtrent die afgelope ruk se beurtkrag-blaaskans, lei tot net meer agterdog.

“’n Mens kan ongelukkig nie help om te wonder hoe daar so skielik voor ʼn baie belangrike verkiesing so ʼn langdurige beurtkrag-blaaskans kan wees nie,” sê Riaan Grobler, hoof van adviesdienste by Everest Wealth.

“Dit is ongelukkig nou ʼn situasie van wag en sien of die beurtkragprentjie ná die verkiesing dieselfde gaan bly of weer baie anders gaan lyk.”

Grobler sê Suid-Afrikaners is bloot agterdogtig aangesien edele beloftes oor die beëindiging van beurtkrag tot op hede nie gerealiseer het nie.

Ramokgopa het Maandag op ʼn mediakonferensie herhaaldelik benadruk dat die beurtkrag-blaaskans geensins verband hou met die naderende verkiesing nie en dat die “einde van beurtkrag binne trefafstand is” en dat daar “vinniger daar gekom is as wat verwag is”.

Die minister het verder gesê daar word goeie vordering gemaak met die energie-aksieplan wat in Julie 2022 deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is.

Grobler is egter skepties.

“Die witskrif oor energiebeleid van 1998 het toe reeds ʼn onheilspellende waarskuwing gerig dat ʼn kragkrisis teen 2007 sou ontstaan indien niks gedoen word nie en dit het wel so uitgespeel. Dit is om dié rede moeilik om te glo dat daar in minder as twee jaar nadat Ramaphosa die energie-aksieplan aangekondig het, reeds dié tipe van vordering gemaak is.”

Grobler sê Ramokgopa het ook binne ʼn baie kort tydperk sy deuntjie verander van “geen beloftes nie” tot “die einde is ʼn klipgooi ver”.

“Ramokgopa gooi ʼn klomp syfers rond, maar dit word ongelukkig met skeptisisme bejeën omdat vorige beloftes nie nagekom is nie en die skielike ommeswaai in prestasie van Eskom se kragstasies net eenvoudig te goed klink om waar te wees.”

Grobler sê dit is wél só dat sonkrag op woonhuise en sakeondernemings se dakke met rasse skrede toegeneem het en vir merkbare verligting gesorg het.

“Beurtkrag het die potensiële grootte van die ekonomie aansienlik verminder weens die enorme ekonomiese skade wat daardeur aangerig is.

“Die Reserwebank raam dat beurtkrag ekonomiese groei in 2023 met tot soveel as 1,5 persentasiepunte verminder het. Die Reserwebank raam die koste van beurtkrag tans op tot R1,2 miljoen vir elke 24 uur wat fase 2 geld en amper R900 miljoen vir elke 24 uur op fase 6.

“Ramokgopa het self verlede jaar gesê dat die aantal werksverliese weens beurtkrag net vir 2023 op meer as 800 000 te staan kan kom. Beurtkrag veroorsaak nie net ongekende ongerief nie, maar knou ondernemings se winste weens verhoogde koste en kniehalter beleggings

“Dit is dus baie belangrik dat daar sekerheid moet wees oor of daar regtig groot vordering gemaak word rakende beurtkrag en of dit bloot ʼn verkiesingsfoefie is,” sê Grobler.

Ramokgopa het Maandag gesê baie min diesel word sedert die begin van Mei verbrand. Volgens die minister is daar in April ook baie minder verbrand as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar toe beurtkrag wel geïmplementeer is. Die minister sê dit wys dat Eskom se kragstasies “op hul eie bedryf word en beter presteer” en dat “ons oor die hond se stert is”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jacobus ·

Dit is die goeie werk wat Andre de Ruyter en Jan Oberholzer gedoen het wat nou vrugte afwerp, kom ons kyk weer volgende jaar hierdie tyd daarna.

Phillip ·

wel as hulle se daar is geen beurtkrag hoekom koop hulle kragopwekkers vir die kabienet vir na die virkiesing mmm

Amelia ·

ropp stem saam wie het groot wins gemaak met diesel verkope ons weet almal die is net nog n fee verhaal

JohanR ·

Jammer maar nie eers ligte permanent aan sal my sover kry om my stem vir die ANC te gee nie! Die pyn van 30 jaar van nutteloosheid le te vlak!

Vriendelike Frikkie ·

Die manier wat hy sy hande hou: Is dit om te wys hoeveel bollie hy praat?

Samuel ·

Dit is só cliché, maar wanneer enige kader se lippe roer, lieg hy. Juniemaand sit ons weer beurtkrag.

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Goeie feetjie vlieg seker van stasie na stasie en tik haar staffie.

Casper ·

Die hond oor wie se stert ons is,is seker ‘n stomp stert.Die sogenaamde goeie vordering het te skielik en te gou plaasgevind vir woorde.As iets te goed is om waar te wees…….. …….. ……

Lettie ·

Vriendelike Frikkie. Nou lag ek alte lekker. Dit is omtrent ‘n grooot bol snert wat hy daar beet het.

Manie ·

Ek glo jou hierdie keer Ramokgopa, maar volgende keer as ek lieg, moet jy my ook glo.

Jacques ·

Ag dankie julle almal vir die kommentaar! Ek’s woordeloos, jul het dit almal presies opgesom. Die verklarende woordeboeke móét nou maar liefs ander sinonieme kry vir die woord “demokrasie”. Groete

Melanie ·

Ons het omtrent 22 dae oor sonder beurtkrag. Ons moet dit geniet terwyl ons kan. Na die 29ste word die ANC losgelaat en dan is ons weer in die donker.

Philip ·

As n oud afgetrede EVKOM middelvlak bestuurder wil ek net vir ou Potivar inlig dat al produseer al die Kragstasies op maksimum kapasiteit landswyd word voorsiening beperk deur Transmissie kraglyne wat opgegradieer en opgerig moet word om die verspreiding van energie te verbeter.Dit is in leketaal net so goed dat as jou boud juk jy jou rug krap.

Jeanette ·

Ja ne? die 30 ste daai oggend is al wat krag stasie weer uit produksie want daar word instand houding gedoen. Die regering dink ons almal het die IK’s wat hulle het. Jy kan mos duidelik agterkom die beurtkrag is sabotasie van een of ander aard. Die regering probeer ons beheer net soos met Covid 19 in 2022

Jaco ·

“Ramokgopa het self verlede jaar gesê dat die aantal werksverliese weens beurtkrag net vir 2023 op meer as 800 000 te staan kan kom.”
Ek sou nog beurtkrag verstaan as dié 800000 almal wit is, want dan is beurtkrag seker maar net nog ‘n deel van die ewige” straf “vir apartheid. Maar ongelukkig is meeste van dié 800000 nié wit nie. Hoekom sorg die ANC dan so sleg vir hulle eie mense???

Henk ·

Ek sê nog altyd beurtkrag word gemanipuleer. Eers was die steenkool nat???? Twak man, die steenkool is buitendien nat voor dit in die branders ingejaag word!!! Net ‘n liegspul van A tot Z om mense om due bos te probeer ly.

Danie ·

Die kiesers wat vir die anc stem wat eintlik die swaarste ly onder die kragtekort se geheue is uiters kort. Hulle het klaar van die blackouts vergeet en hoee en haa reeds saam met die politieke narre en hul lee beloftes.
Na die verkiesing is die blackouts terug en skielik kan niemand verstaan hoekom nie.
Kry vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.