Bloemwater draai weer krane toe oor skuld 

kraan-water-glas

(Foto: pixabay)

Bloemwater se besluit om waterlewering aan die Manguang-metro tot slegs 30% te verminder weens wanbetaling van die Mangaung-metro, is onaanvaarbaar.

“Dit is ook onaanvaarbaar dat die twis tussen Bloemwater en die metro en hul onvermoë om tot ʼn vergelyk te kom, kan lei tot die ongerief van die inwoners van Mangaung,” sê dr. Elizabeth Snyman-van Deventer, VF Plus-raadslid van die metro.

Talle woonbuurte het reeds van Vrydag af waterdrukprobleme ervaar.

Volgens Bloemwater skuld die metro hom meer as R270 miljoen. Die watervoorsiener het gesê hy het op 18 November korrespondensie van die metro ontvang rakende ’n betalingsooreenkoms vir die uitstaande rekening.

Bloemwater was egter nie gelukkig met die voorgestelde betalingsooreenkoms nie en meen daar is geen tasbare verbintenis om te betaal en die rekeninge op datum te bring nie, aangesien die voorstel afhanklik is van normale inkomste-invordering deur die munisipaliteit.

Die metro het Saterdag in ’n verklaring gesê dat hy wel ’n betaling aan Bloemwater gemaak het en dat daar tans gesprekke is om die watertoevoer ten volle te herstel.

Snyman-van Deventer meen egter dit is duidelik dat Bloemwater elke jaar in November gebruik maak van dreigemente om die watertoevoer te verminder om die metro te dwing om sy uitstaande rekening te betaal.

“Die skuld vir die probleem moet gelê word voor die swak bestuur van die ANC in die metro wat vir die skuldprobleem verantwoordelik is. Die probleem word vererger deurdat Bloemwater reeds vanaf Junie weet dat die metro se rekening agterstallig is. Die probleem kon daarom lankal reeds hanteer gewees het. Na vyf maande en reg voor die feesseisoen word die stad nou gyselaar gehou.”

Die VF Plus het die saak met die waarnemende stadsbestuurder, Selo More, bespreek en hy het volgens Snyman-van Deventer die versekering gegee dat die metro alles in sy vermoë doen om wel van die uitstaande skuld te betaal om te voorkom dat die stad sonder water sit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Maggies ·

Almal in Bloemfontein stem nie vir die ANC nie. Sal gaaf wees as sommige mense dink voor hulle menings lug.

Shakespeare ·

Met ‘n “leier” soos onbevoegde arrogante Sisi, wat verwag julle stemvee????

Tiptol ·

‘n Besig kan sekerlik nie ‘n diens lewer as die kliënt nie betaal nie….

Willem ·

Vra vir Selo More of sy salaris betaal is en ek wed enige geld dat dit wél betaal is. Dit is al waaroor dit gaan in alle vlakke van hierdie land se regering. Die amptenare en politici se salarisse word eerste betaal! Dis siek wat hier aangaan man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.