Boere kry kunsmatige intelligensie-vennoot

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai is gereed om vir Hi Saai met landbouverwante vrae te peper. (Foto: Du Preez de Villiers)

Klein- en mediumgrootte familieboere het nou ʼn kans om meer mededingend te word met die hulp van Hi Saai, ʼn kunsmatige intelligensie (KI)-platform wat landbouverwante vrae kan beantwoord en daarmee slimmer word uit vrae wat aan hom gevra word.

Hierdie platform is deur Saai van stapel gestuur en is ook die wêreld se eerste in die landbou. Boonop is dit ʼn WhatsApp-gebaseerde platform, ook ʼn wêreldeerste, wat dit baie eenvoudig vir die oorgrootte meerderheid familieboere maak om te gebruik.

“Daar is net een manier waarop die wêreld se kleinboere en mediumgrootte boere ʼn toekoms het en gaan oorleef in ’n omgewing waar groot, korporatiewe groepe en multinasionale maatskappye algaande primêre produksie begin oorneem. Hulle moet daardie vermoë hê om meer te produseer met minder op minder,” sê dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“Hi Saai is ʼn eiesoortige Suid-Afrikaanse produk en dit was vir Saai baie belangrik om hierdie spasie eerste te vul.

“Hierdie is die tipe goed wat die jonger geslag boere verstaan, baie beter as die ouer geslag, en dit maak dat hulle terugkom plaas toe. Dit is wat maak dat hulle ʼn toekoms vir hulself in landbou sien en wat maak dat hulle mededingend bly.”

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê Hi Saai is met behulp van die beste digitale tegnologie gebou en gebruik 175 miljard se datapunte op die internet om binne minute ’n ingewikkelde raamwerk te ontwikkel, waarbinne ’n volledige antwoord op ’n stel landbouverwante vrae gegee word.”

Saai is reeds in gesprek met landbou-unies oor die wêreld heen om die platform so wyd as moontlik beskikbaar te stel en om dit aan ander organisasies en boere wat nêrens ʼn tuiste het nie, beskikbaar te stel. Hy poog ook om die program meer Afrikaans-magtig te maak.

“Hi Saai leer uit sy eie ervaring en navorsing en verbeter homself deurlopend. Dit is nog in die ontwikkelingsfase en ’n al groter groep boere word daarby betrek om haakplekke uit te stryk. Binne enkele weke sal dit as ’n gratis bestuurshulpinstrument vir elke boer in Suid-Afrika beskikbaar wees voordat dit elders in Afrika en wêreldwyd uitgerol word. Die verste, kleinste, en armste boere kan die beste beskikbare raad van Hi Saai kry as hulle ’n internetverbinding het.

 

Die breinkrag agter Hi Saai is dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai; Tyron Williams, van Hustlery programmeerders en Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Deur ons aktiewe betrokkenheid by die Wêreld-landbou-organisasie en die VN se Dekade van Familieboerdery wil ons seker maak dat organisasies soos Saai wat hom vir die belange van familieboere beywer, eerste dié gaping vul en eienaarskap van die tegnologie neem,” sê Rossouw.

“In die eerste rondes van die toetsfase van Hi Saai is heelwat uitdagings uitgepluis, en hoewel die platform gereed is om in die openbare domein geplaas te word, verwag Saai se tegnologiespan dat onvoorsiene haakplekke met groter verkeer oor die platform kan opduik.

“Hi Saai plaas die heel beste kundigheid en inligting wat beskikbaar is binne bereik van elke boer. Dit verskuif die horisonne van landboutegniese adviesdienste en dek elke dimensie van boerdery – van sakeplanne, finansiële advies en meganisasie tot chemiese toedienings produksiebeplanning, bemarking en programmering.”

Hy sê Hi Saai is ’n superkonsultant sonder die rekening, ’n voltydse raadgewer-analis sonder die salaris, en ’n vennoot sonder die winsdeling.

Tyron Williams, eienaar van Hustlery-programmeerders, het die KI-program geskryf en is besig om die program te leer deur dit met landboubronne soos wetenskaplike artikels, ensiklopedieë en vraestelle te voer.

“Dit is nou die werk van die boere om aan die program deel te neem, om Hi Saai se inligting te vermeerder en sy intelligensie te verhoog,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

Siedaar! Dawid het Goliat weer ‘n keer ‘n les geleer. Puik, SAAI so voort!

Harley Davidson ·

Dit wys jou net ons het die kundigheid en mense om vooruitgang te verseker ons het net nie die land en regering nie.

Danie ·

Dit gaan baie meer kos om n verandering mee te bring.Plaasmoorde en aanvalle op bejaardes moet stop.Daar baie ander ekonomiese veranderinge wat moet plaasvind voordat voornemende boere se gesindheid sal verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.