Brand by skool dalk gestig

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Cullan Smith/Unsplash)

ʼn Brand wat ʼn biblioteek, drie klaskamers en ʼn kantoor by ʼn skool in die Vrystaat verwoes het, is dalk gestig. Dit is die tweede brand by ʼn skool in dié provinsie in net een week.

Die mees onlangse brand het net ná 01:00 Donderdag by die Bluegumbush Sekondêre Skool uitgebreek. “Die hoof, adjunkhoof en ʼn onderwyser van die skool het probeer om die brand te blus, voordat dit na ander geboue versprei het,” het Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, gesê.

Altesaam 120 leerders is gevolglik sonder lessenaars gelaat, maar geen beserings is aangemeld nie.

“Die polisie ondersoek die voorval, maar vermoed dat die brand gestig is,” sê Ndaba.

Die ou Laerskool Fred Wentzel op Vrede in die Vrystaat is deur vlamme verswelg. (Foto: Facebook / Alie Nel)

Dit is die derde brand in ʼn week in die Thabo Mofutsanyane-distrik in die Vrystaat. Die Laerskool Fred Wentzel op Vrede is verlede Donderdag in ʼn brand vernietig. Die brand het omstreeks 03:00 Vrydag uitgebreek en dié 115 jaar oue skoolgebou, wat op 16 September 1907 amptelik ingehuldig is, vernietig. Die amptelike oorsaak is nog nie bekend nie, hoewel die brand moontlik weens ʼn verwarmer ontstaan het.

“Ons is baie bekommerd en hoop hierdie twee voorvalle hou nie met mekaar verband nie. Die finansiële, sielkundige en opvoedkundige gevolge vir onderwysers en leerders om ʼn skool te verloor is ondenkbaar,” het dr. Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat, Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Hy het lede van die gemeenskap versoek om hul skole te beskerm teen enige voorvalle van vandalisme of misdaad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.