Covid-19: Rol van weerstoestande ondersoek

Dr Neville Sweijd, sameroeper van die Covid-19 Omgewingsverwysingsgroep (CERG) en direkteur van die Access-program (Foto: Twitter/@NAPCentral via ANA)

ʼn Groep Suid-Afrikaanse wetenskaplikes sal in Augustus hul bevindings voorlê tydens ʼn internasionale virtuele konferensie oor die rol wat weersomstandighede, die klimaat en die omgewing speel in die verspreiding van Covid-19.

Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) het Woensdag in ʼn verklaring gesê die konferensie word gekoördineer deur ʼn span navorsers by Johns Hopkins-universiteit, die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) en die Access-program in Suid-Afrika.

Access is ʼn Suid-Afrikaanse groep agentskappe wat saamwerk om uitsette te lewer volgens die departement van wetenskap en tegnologie se Global Change Grand Challenge (GCGC).

Die simposium is geskeduleer vir 4 tot 6 Augustus en dr. Blade Nzimande, Suid-Afrikaanse minister van hoër onderwys, sal ʼn inleidingstoespraak lewer. Sowat 500 deelnemers sal beraadslaag oor ongeveer 100 bydraes oor die onderwerp van navorsers van byna 30 lande.

“Dit is relevant vir Suid-Afrika wat tans, tydens die winterseisoen, die hoogtepunt van die epidemie in die streek beleef, in ʼn tyd wat die tipiese griepseisoen ook ʼn hoogtepunt bereik,” het dr Neville Sweijd, sameroeper van die Covid-19 Omgewingsverwysingsgroep (CERG) en direkteur van die Access-program, gesê.

CERG is in opdrag van die departement van wetenskap en innovasie gevorm om die omgewingsaspekte van die koronavirus te bestudeer. Kenners van verskeie plaaslike instansies vorm deel van CERG en meeste van hulle sal hul werk oor Covid-19 by die internasionale simposium aanbied.

Alhoewel omgewingsfaktore nie die katalisator was vir die eerste golf van Covid-19 nie, is daar steeds vrae wat onbeantwoord bly soos of faktore soos temperatuur, humiditeit, luggehalte en ultravioletlig ʼn invloed het op die verspreiding van SARS-CoV-2, aldus die WNNR.

“Dit is noodsaaklik om te verstaan of meteorologiese, klimatologiese en omgewingsfaktore die verspreiding van die siekte binnenshuis of buitenshuis bevorder. Dit is ʼn wetenskaplike vraag wat die basis vorm van talle studies,” het prof. Jürg Luterbacher, hoofwetenskaplike van die WMO en direkteur van wetenskap en innovasie, bygevoeg.

Die virus het aanvanklik in China, in die noordelike halfrond, gemanifesteer en het in ʼn westelike en oostelike rigting versprei. Volgens kenners is dit ʼn teken van klimaatsensitiwiteit of moontlik slegs hoe mense rondbeweeg.

“Covid-19 sal waarskynlik vir ʼn hele paar jaar ʼn heersende siekte bly ná die aanvanklike pandemie-fase,” het dr. Joy Shumake-Guillemot van die WMO/Wêreldgesondheidsorganisasie se gesamentlike klimaat- en gesondheidskantoor, gesê. “ʼn Beter begrip hoe dit geraak word deur omgewingsfaktore en weersomstandighede, net soos die geval is met talle ander lugwegvirusse en -siektes, sal rigtinggewend wees vir gesondheidsbeleid en die bestuur van die siekte in die komende maande en jare.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

gehasie ·

WGO? Is dit moontlik dat die een leuen nou op die ander leuen gebou word of is net bloot parallel. Die ANC (wat die geleentheid open) met sy hantering van die sg. C-19 het sy geloofwaardigheid finaal ‘n nekslag toegedien.

Fedup ·

Well first the blame went to apartheid then the poor virus was dragged into the fight.
Now it’s the weather’s turn to be blamed.
What will be next?

Scalla ·

Die propvol taxi se 2 ruite moet net oop wees, geen probleem, geen ondersoek hoef plaas te vind nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.