Covid-19-samevatting: Toetse in Jhb 10 dae agterstallig

(Foto: pixabay)

Volgens die jongste Covid-19-syfers het Gauteng reeds meer as 11 000 positiewe gevalle van die virussiekte, maar die uitslae van sommige van die provinsie se inwoners is langer as 10 dae uitstaande.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê die probleem is veral in wyk 58, wat Mayfair, Fordsburg, Homestead Park en Vrededorp insluit. Toetssentrums is op 4 en 5 Junie daar opgerig, maar talle mense wag steeds op hulle uitslae. Een van dié mense is die DA-wyksraadslid Alex Christians.

Volgens Christians is gesondheidsinspekteurs boonop uiters gefrustreerd omdat die toetsmonsters nie behoorlik gemerk is nie en hulle dus sukkel om gevalle na te spoor waaroor daar navrae is.

Nog iemand wat met vertraagde uitslae gesukkel het, was die DA-raadslid in Ekurhuleni, Khetha Shandu. Shandu het op 22 Mei ʼn Covid-19-toets in Tembisa gedoen. Hy het sy toetsuitslag eers drie weke later gekry. Dit was negatief, maar Bloom sê iemand by wie Covid-19 nog nie gediagnoseer is nie, maar wel aansteeklik is, kan talle ander mense siek maak.

“Gauteng moet sy strategie om groot getalle Covid-19-toetse in die gemeenskap te doen dringend verander in die lig van die voortgesette stadige omdraaityd en die huidige agterstand van 23 000 toetse in die provinsie,” het Bloom gesê.

Hy het gesê mediese kenners het ʼn beroep gedoen dat beperkte toetskapasiteit slimmer benut word sodat toetse vir kwesbare gesondheidswerkers en hospitaalpasiënte voorkeur kry.

Bloom het gesê die nasionale laboratoriumgesondheidsdiens het ʼn vals belofte gemaak dat hy 36 000 mense per dag kan toets. Die agterstand in dié stadium is 63 000 toetse.

Meer as 1,1 miljoen mense in Suid-Afrika is reeds vir Covid-19 getoets en net meer as 34 000 toetse is die afgelope 24 uur gedoen. Dit sluit toetse by staats- en private instellings in.

“Massatoetse maak geen sin as dit tot drie weke duur om die uitslag te ontvang nie,” het Bloom gesê.

Hy het ook gesê die Gautengse regering se bewering dat hy reeds meer as 7,4 miljoen mense vir Covid-19 gesif het, is ongeloofwaardig. Dit is nagenoeg die helfte van die provinsie se bevolking. Gauteng voer ook aan dat hy 100% van die 17 713 Covid-19-kontakpersone reeds nagespoor het, ʼn syfer wat Bloom ook bevraagteken.

Verskeie aktekantore gesluit

(Foto: pixabay)

Intussen is drie aktekantore in onderskeidelik Pretoria, Johannesburg en King William’s Town weens Covid-19 gesluit. In Johannesburg en Pretoria het besoekers aan die kantoor positief vir Covid-19 getoets, terwyl ʼn amptenaar in King William’s Town positief getoets het.

Daar is reeds begin om die geboue te ontsmet en skoon te maak, het Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gesê.

Dienste by die kantore sal na verwagting Woensdag hervat word.

Ngcobo het gesê slegs akteprokureurs word in groot aktekantore toegelaat en hulle mag die kantore net op afspraak besoek. Klerke word ook in spesifieke omstandighede toegelaat.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie ·

Ek is woensdag oggend getoets deur Lancet en woensdag aand is ek laat weet dis NOT DETECTED. Is

BoerSonderRoer ·

My suster is n paar dae terug in Krugersdorp getoets en uitslag was volgende dag beskikbaar.

Gaan Krugersdorp toe.

BoerSonderRoer ·

Mag dalk weer ‘n geval wees van staat vs privaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.