DA terug hof toe oor kaderontplooiing

Die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Die DA loop die ANC Maandag weer trompop in die hof oor sy “korrupte kaderontplooiingsbeleid”.

Die amptelike opposisie beoog om die volledige rekords en notules van die ANC se kaderontplooiingskomitee – wat terugdateer na 1 Januarie 2013 toe pres. Cyril Ramaphosa voorsitter van dié komitee geword het – in die hande te kry en bekend te maak.

Die DA het in Februarie 2021 reeds ʼn aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien vir die notules van ANC-vergaderings oor kaderontplooiing.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê die saak het nuwe betekenis gekry ná die mondelinge getuienis wat die ANC vroeër vandeesweek gelewer het as deel van die DA se afsonderlike aansoek om kaderontplooiing ongrondwetlik te verklaar.

Die ANC het onder meer aangevoer dat kaderontplooiing op vryheid van spraak neerkom.

“Tog word die absurde aard van hierdie bewering weerlê deur die feit dat elke enkele besluit wat ooit deur die ANC se kaderontplooiingskomitee geneem is, ʼn goedbewaarde geheim is,” sê Schreiber.

“Indien kaderontplooiing werklik ʼn kwessie van vryheid van spraak is, hoekom staan die ANC die DA se hofsaak teë om die volledige rekords van al die besluite wat deur die ontplooiingskomitee geneem is, openbaar te maak?” sê Schreiber.

“Indien kaderontplooiing nie korrup is nie, hoekom is die ANC so desperaat om die feite daaroor vir die mense van Suid-Afrika weg te steek?”

Schreiber sê die ANC is vasbeslote om die betrokke rekords geheim te hou.

“Dit laat ons met geen ander keuse as om die hof te nader om die ANC te dwing om die volledige besonderhede bekend te maak van hoe kaderontplooiing staatskaping bevorder het terwyl Ramaphosa voorsitter van die komitee was nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.