Departement waarsku reisigers oor hondsdolheid

(Foto: Argieffoto)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het reisigers gemaan om bedag te wees op gebiede wat as ʼn hoë risiko vir hondsdolheid beskou word.

Dit sluit in die kusgebiede van KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga, asook die grens tussen die Vrystaat en Lesotho.

Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, sê die mense word aangeraai om nie rondloperhonde en -katte in hierdie gebiede te nader, aan te raak of op te tel nie – vir watter doel ook al.

“Wanneer jy rondloperdiere optel en hulle huisves, kan jy die verspreiding van hondsdolheid na ander gebiede en provinsies bevorder en jou lewe en dié van jou gesin in gevaar stel. Mense word aangemoedig om rondloperdiere eerder na plaaslike welsynsowerhede te neem en hierdie organisasies te ondersteun in die versorging van sulke diere,” sê Ngcobo.

Hondsdolheid is ʼn ernstige en meestal dodelike soönotiese siekte, wat beteken dat dit van besmette diere na mense oorgedra kan word. Die siekte tas die brein aan en is dodelik sodra kliniese simptome ontwikkel. Daar is geen behandeling daarvoor nie.

Enige soogdier kan met hondsdolheid besmet raak, maar die grootste bedreiging vir mense is besmette honde en katte.

Die hondsdolheidvirus word deur speeksel van ʼn besmette dier oorgedra wanneer dit iemand byt, krap of lek.

Diere met hondsdolheid kan gedragsveranderings toon, wat wissel van aggressie, oormatige vriendelikheid of net slaperigheid. Die besmette diere kan baie kwyl, kan dalk nie sluk nie of blaf, kerm en tjank aanhoudend.

Ngcobo sê indien enigiemand vermoed dat hy of sy aan ʼn dier blootgestel is wat dalk hondsdolheid het, is dit uiters belangrik om die wond goed met seep onder lopende water te was en om dadelik voorkomende behandeling by die naaste gesondheidsorgfasiliteit te soek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.