Derde aangekeer ná sewe ontsnap

(Foto verskaf deur die SAPD)

ʼn Derde gevangene wat uit die korrektiewe fasiliteit in Makhanda (voorheen Grahamstad) ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

Die gevangenes het op 18 Oktober omstreeks 04:00 ontsnap. Dit is nog nie duidelik hoe hulle daarin kon slaag nie en die omstandighede rakende die ontsnapping word ondersoek.

Die span wat na die voortvlugtiges op soek is, het Sondagaand omstreeks 18:30 ʼn derde ontsnapte, Trymore Chauke, in Seven Fountains opgespoor. Hy het glo kos gebedel by mense in die plaasgemeenskap. “Die taakspan het dadelik die wenk opgevolg en hy is binne 30 minute aangekeer,” het die Oos-Kaapse polisie in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig een van die gevangenes, Bennet Kwarrie, is die dag van die ontsnapping weer in hegtenis geneem. Hy is in Bloemfontein opgespoor.

Die tweede gevangene is laat verlede week Woensdagaand naby Makhanda in hegtenis geneem deur ʼn gesamentlike taakspan van polisielede en beamptes van korrektiewe dienste. Simba Masinga het in die bosse weggekruip toe hy vasgetrek is.

Daar word intussen nog gesoek na Nhamo Muyambo, Francis Chitho, Lubuyo September en Abraham Moyane.

Ao. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het gesê die gevangenes is gevaarlik en dat lede van die publiek hulle nie direk moet nader nie, maar eerder die polisie moet inlig. Al die ontsnaptes is Zimbabwiese burgers wat skuldig bevind is aan renosterstroping.

Enigiemand met inligting oor die gevangenes wat steeds op vrye voet is, word versoek om kapt. Glen Peter by 082 301 9427 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rocco ·

“Dis nie duidelik hoe hulle ontsnap het nie”. Die owerhede moet dit uitvind by die wat ontsnap het, en weer aangekeer is. Hoe moeilik kan dit nou wees

Hasie ·

Dit was defnitief aandeel van binne…en ja hoe dom moet mens wees om te staan en bedel by die gemeenskap wat jy treiter?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.