Derde verdagte aangekeer oor dwelms aan minderjarige kinders

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

ʼn 42-jarige man is in hegtenis geneem in verband met dwelmhandel aan minderjarige kinders in Bloemfontein.

Aol. Fikiswa Matoti, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê die man is Vrydag by sy woonstel in Bloemfontein in hegtenis geneem.

Inwoners van Thaba Phatswa, oos van Bloemfontein, het op 12 Oktober 2021 die Valke ontbied na ʼn dringende gemeenskapvergadering waar hulle gekla het oor beweerde dwelmhandelaars in die dorp. “Hulle het hoofsaaklik gekla oor die gebruik van mandrax en kristalmetamfetamien deur minderjarige kinders.”

Die Valke het projek Dead Road geregistreer en verskeie operasies is uitgevoer. ʼn Onwettige vuurwapen is tydens een van die operasies gekoop.

Barend Jansen (57) en Edrick Morrison “Marshall” Brummer (58) is reeds op 20 Februarie 2024 in hegtenis geneem in verband met dieselfde ondersoek. Hull ehet op 14 Maart 2024 in die Tweespruit-landdroshof verskyn en is vrygelaat op borgtog. Jansen is vrygelaat op borgtog van R17 000 en Brummer op borgtog van R20 000.

Die derde verdagte, die 42-jarige verdagte, sal op 18 Maart in die Exelcior-landdroshof verskyn op aanklag van die handeldryf in dwelmmiddels en onwettige handeldryf met vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.