Dis hoekom Wes-Kaap se nuwe BMW’s stilstaan

Argieffoto (Foto: Western Cape Government/Facebook)

Die 110 splinternuwe BMW’s wat die Wes-Kaapse regering verlede jaar aangekoop het, is nog nooit gebruik nie en staan al vir ʼn halwe jaar en stof opgaar.

Die provinsiale regering het bevestig 50 van die motors staan tans by die Gene Louw-verkeerskollege in Brackenfell om spasie te maak vir staatsvoertuie by die regering se geriewe in Maitland. Die oorblywende 60 voertuie staan in ʼn staatsmotorhawe.

Volgens Ricardo Mackenzie, die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, wag die provinsiale regering vir die afhandeling van ’n tenderproses waartydens onderdele bekom word wat BMW voorskryf, voordat die motors in gebruik geneem word.

“Sekere komponente wat vir vorige modelle aanvaar is, voldoen nie meer aan BMW se vereistes om die waarborg vir die voertuie te behou nie,” sê Mackenzie.

Die provinsiale regering se afdeling wat verantwoordelik is vir staatsvoertuie het gevolglik ’n tenderproses begin om die regte onderdele te kry, pleks daarvan om die waarborg te verbeur. Dit sluit in die nuutste noodligte, sirenes en nommerplaatherkenning-tegnologie.

“Hoewel die vertraging in die gebruik van die voertuie onvoorsien en betreurenswaardig is, is die besluit om die regte onderdele deur middel van ’n tenderproses aan te skaf, die regte besluit.

“Die proses om die motors toe te rus is reeds ver gevorder en die saak word met alle dringendheid hanteer.”

Die voertuie is teen einde verlede jaar aangekoop om die regering se bestaande verouderende vloot te vervang en om aan bykomende vervoerbehoeftes te voldoen.

Die voertuie is voor die einde van die 2022-kalenderjaar aangekoop om die jaarlikse prysstyging te vermy, sê Mackenzie.

Cosatu in die Wes-Kaap het in ʼn verklaring ʼn onmiddellike ondersoek geëis oor waarom dié luukse voertuie nie gebruik word nie. Die vakbond vra ook dat die verantwoordelike partye aanspreeklik gehou moet word.

“Wat ontstellend is, is die feit dat niemand verantwoordelikheid vir hierdie daad wil aanvaar nie,” lui die verklaring. “Hierdie voertuie kan op ons paaie gebruik word vir doeltreffende verkeersbestuur en wetstoepassing.

“Die skokkende bedrag geld wat as verkwistende uitgawes aan die lig gebring is, is onaanvaarbaar. Ons is ingelig dat een voertuig byna R850 000 gekos het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Samuel ·

Ja, Cosatu, as die regte tenderproses nie gevolg word nie, is dit ook nie goed nie.

mattk ·

Nogal lagwekkend hoe vinnig die kaders hul monde rek oor die Wes Kaap se sogenaamde verkwisting terwyl hulle niks sê oor die SAPS voertuie (landwyd) wat onklaar staan omdat daar nie fondse is om hulle te diens of te herstel nie.

Johan ·

Die arme Cosatu het ook die klok gehoor lui, maar weet nie eers dat daar nie meer ‘n koster is wat destyds dit gelui het nie. So weet Cosatu ook nie eers hoe groot die Wes-Kaap se voertuigvloot is nie en wat dit prosesse is om voertuie te vervang nie. Die toevoeging van die verlangde toerusting is ‘n groot en omvangryke taak. Laastens is spasie om die vloot te stoor terwyl dit toegerus word ‘n enorme uitdaging. Sterkte SMV.

Yolandie ·

Die unies is maklik om hulle monde uit te spoel oor die Wes Kaap en vermorsing maar bly tjoep stil as dit kom by die ANC en die geld wat hulle uitmors vir hulle giere en geite. Met dit gesê as die voertuie ten doen het om ou motors te vervang wat nog werkend en rybaar is sal dit in die Wes Kaap regering se belang wees om die ou voertuie bv aan te wend vir die Wes Kaap polisie (voertuie) is skaars wat sigbare polisiering moeilik maak. Mens sou dink die mense het kommin sense maar oh wee……dit maak mos net sin om hulpbronne te versprei.

Vrystaat2109 ·

Nou verstaan ek niks,as ek ‘n nuwe voertuig koop dan is dit mos die handelaar se verantwoordelikheid om te verseker dat die regte onderdele beskikbaar is, dit is mos NIE tweedehandse voertuie wat aangekoop is nie, en as die ou voertuie nog gebruik word hoekom is 110 nuwe voertuie aangekoop wat staan en stof opgaar.

Johan ·

SMV is ‘n Handelsentiteit en elke voertuig in die vloot het ‘n ekonomiese lewensduurte waartydens dit in waarde depresieer. Sodra die boekwaarde nul bereik word die voertuig per veiling verkoop en met ‘n nuwe een vervang. Sommige voertuie kan nog gebruik word, maar instandhoudingskoste oorskrei dan die boekwaardes (word dan teen verlies bestuur). Hierdie vereistes/ bepalings word gereguleer ingevolge die finansiële stelsel wat wetlik voorgeskryf word in die Openbare Finansiële Bestuurswet.

Nie Verbaas ·

Mis ek iets? Nuwe voertuie kom met BMW diensplan. Watse onderdele moet hulle aankoop wat deur BMW vereis word as voertuie op diensplan is?

Vriendelike Frikkie ·

Staan duidelik in die berig; nuutste noodligte, sirenes en nommerplaatherkenning-tegnologie

Johan ·

Dis nie onderdele nie, dis sirenes, waarskuwingsligte en stelsels om nommerplate te kan identifiseer.

My siening ·

En daar maak die ANC weer ‘n bollie van hul self, want die DA het die Wes Kaap geld gespaar om waarborg te red, nie soos die ANC sou nie wag om die blouligte te gebruik om kinders skooltoe te vat!

Tanya ·

Hoekom moet dit BMW wees? Van so ‘n hoë bedrag? Hoekom kan hulle nie Toyota Yaris of Hyundai i10/i20 ry nie, hoekom moet dit sulke duur karre wees! Kan dit net nie klein kry nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.