Drie diere in wildtuin doodgeskok

Argieffoto: Pixabay

ʼn Olifant, ʼn kameelperd en ʼn aasvoël is Dinsdag in die Krugerwildtuin doodgeskok nadat ʼn Eskom-kraglyn in die park omgeval het.

SANParke het Woensdag in ʼn kort verklaring gesê die kraglyn het gisteraand in die Shingwedzi-gedeelte in die noorde van die wildtuin omgeval. “’n Veldwagter is Woensdagoggend daarvan in kennis gestel en hy het Eskom onmiddellik in kennis gestel om ʼn span na die toneel te stuur,” lui die verklaring.

“Die krag is afgeskakel om veldwagters in staat te stel om die olifanttande vir veilige bewaring te verwyder en ʼn kragopwekker sal elektrisiteit aan die gebied voorsien totdat SANParke en Eskom se tegnici klaar op die toneel was. ʼn Ondersoek sal gedoen word om te bepaal wat veroorsaak het dat die kraglyn omgeval het en meer inligting sal mettertyd hieroor bekendgemaak word.”

Die wildtuin het bevestig die voorval het nie die stemproses in die gebied beïnvloed nie.

Maroela Media het vroeër berig ses diere is in Januarie in die Krugerwildtuin doodgeskok nadat ’n kragpaal weens stormweer in die veld omgeval het. Die karkasse van ’n kameelperd, twee leeus, twee hiënas en ’n renoster is diep in die bos naby die Paul Kruger-hek aangetref.

ʼn Woordvoerder van die wildtuin het destyds gesê dit word vermoed dat die kragdraad die kameelperd getref het toe die kragpaal omgeval het. Die kameelperd se karkas het waarskynlik die ander diere gelok wat op hul beurt deur die gelaaide kragdraad op die grond doodgeskok is.

Die renoster se horing is deur veldwagters verwyder en in veilige bewaring geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andrea van Vuren ·

Waar Eskom ookal figureer openbaar dit net slegte nuus…

Andreas ·

En ons lees niks wat by die grensdraad daar in die ooste gebeur nie, almal is veilig daar.

PaulV ·

Nee Alwyna, hierdie voorval het pas gebeur. Daar word wel ook in die artikel verwys na ses diere wat in Januarie in die Krugerwildtuin doodgeskok is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.