Lt.kol. Moatshe Ngoape, woordvoerder van die polisie, het gesê die motor is naby die Mokwakwaila-nedersetting, oos van Polokwane, in ʼn kitsvloed vasgevang en van ʼn pad af gespoel. Die bestuurder kon daarin slaag om uit die motor te kom, maar is ernstig beseer toe die water hom teen bome en groot klippe vasgespoel het.
Die ander drie insittendes is in die motor vasgekeer en het verdrink.
Volgens Ngoape is die oorledenes intussen as Refilwe Mashao, Abrahm Mashao en Bontle Mkansi geïdentifiseer. Hulle was almal van Bolobedu en was tussen 28 en 46 jaar oud.
Die bestuurder is in die Kgapane-hospitaal opgeneem. Sy toestand is nie in dié stadium bekend nie.
ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen.