E-taxidiensbestuurder vas oor ‘kamma-kaping’

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn E-taxidiensbestuurder is Sondag in hegtenis geneem nadat hy glo ’n vals klagte van motorkaping by die polisie aanhangig gemaak het.

Konst. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, sê die sogenaamde kaping het Vrydag in Phoenix, KwaZulu-Natal, plaasgevind toe die bestuurder na bewering op pad was om passasiers te gaan oplaai.

“Die bestuurder het beweer hy is van sy voertuig beroof en op ʼn onbekende plek as gyselaar aangehou. Hy het verder beweer dat hy Saterdagaand kon ontsnap, waarna hy by die polisie in Phoenix ʼn saak van motorkaping aanhangig gemaak het,” sê Ngcobo.

“Die polisie het inligting van die gekaapte motor, wat by die polisie in Isipingo gestaan het, opgevolg.”

Tydens ondervraging van die man is vasgestel dat die bestuurder glo die motor by dié polisiestasie parkeer het en die motor se sleutels by die Alicestraat-spoorlyn in die veld gegooi het, waarna hy ʼn vals saak van motorkaping geopen het.

“Die bestuurder het die polisiebeamptes na Alicestraat geneem en die sleutels is teruggekry.”

Die bestuurder is in hegtenis geneem vir meineed en dwarsboming van die gereg. Sy voertuig is ook geskut.

“Die verdagte sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Phoenix verskyn.”

Dit is onduidelik hoekom die man die vals klagte aanhangig gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.