Een sterf in botsing met gesteelde bakkie

(Argieffoto: pixabay)

Die polisie in die Wes-Kaap is op soek na drie mense wat glo gevlug het nadat ʼn bakkie Sondag in die vroeë oggendure teen ʼn muur op Calitzdorp vasgery het. ʼn 17-jarige seun is in die ongeluk in Voortrekkerweg dood.

Sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê volgens die voorlopige ondersoek was die bakkie op die R62 van Oudtshoorn na Calitzdorp onderweg toe dit die muur getref en omgeslaan het. Die polisie is omstreeks 03:45 na die toneel ontbied.

“Die polisie het die jong man se liggaam by die bakkie aangetref. Hy het verskeie beserings opgedoen en paramedici het hom op die toneel dood verklaar,” het Spies gesê.

Verdere ondersoek het gewys dat drie ander insittendes van die toneel gevlug het. Calitzdorp-speurders is steeds op soek na hulle.

“Daar is later vasgestel dat die voertuig aan die plaaslike munisipaliteit behoort. Dit is as gesteel aangemeld en ʼn saak van motordiefstal word ondersoek.

“Die oorsaak van die ongeluk moet nog vasgestel word.”

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.