Ereleerstoel vir veiligheidstudies wil ‘unieke ruimte inneem’  

Dr. Heinrich Matthee het Dinsdag die eerste bekleër van die ereleerstoel in veiligheidstudies in die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia geword. (Foto: Verskaf)

Dr. Heinrich Matthee, gesiene politieke ontleder en veiligheidsakekenner met meer as 25 jaar ervaring in dié veld, het Dinsdag die eerste bekleër van die ereleerstoel in veiligheidstudies in die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia geword.

Matthee het in sy intreerede ʼn kaleidoskoop van veiligheidsake aangeraak onder die titel “Verkenners en besluitnemers in politieke wisselordes” waarin hy gereageer het op hoe ons moet dink oor veiligheidstudies in Afrikaans en wat ons daarmee kan doen.

Sy rede het verskillende veiligheidstudiesaspekte aangeraak wat insluit ʼn oorsig oor die internasionale kennisgemeenskap, ʼn oop visier van perspektiewe, Afrika se unieke karakter van veiligheidstudies, aspekte van die veiligheidsekonomie, wapenmagte en die diplomasie van veiligheidstudies, skuifkragte en gemeenskappe.

Volgens Matthee bied die ereleerstoel geleentheid om die basisaannames van klassieke veiligheidstudies uit te daag in ʼn unieke Afrika-konteks waarin verskillende gemeenskappe verskillend dink oor veiligheid.

Dr. Heinrich Matthee, bekleër van die ereleerstoel vir veiligheidstudies by Akademia (Foto: Verskaf)

Veiligheidstudies in ʼn Afrika-konteks moet volgens Matthee nie net kulturele pluraliteit in ag neem nie, maar ook polisiëringspluraliteit – ʼn konteks waarbinne “die polisie” met ʼn magsmonopolie nie bestaan nie, maar eerder ʼn pluraliteit van regerings-, privaat en gemeenskapsrolspelers wat saamwerk om veiligheid te verseker. Gemeenskaps- en polisiëringspluraliteit noodsaak noodwendig ʼn groter fokus op die diplomasie van veiligheidstudies.

Matthee het sy aanbieding afgesluit met ʼn fokus op dit wat hy noem die hart van die saak.

“Dit is ʼn wispelturige bos met dieper wortels waarbinne gewone mense verkenners en besluitnemers word in ʼn groter politieke orde.”

Uiteindelik moet die abstraksies van veiligheidstudies daarop gerig wees om die wêreld en werklikheid so te verstaan en te ontleed om mense se omstandighede veiliger te maak.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof, dr. Heinrich Matthee, bekleër van die ereleerstoel vir veiligheidstudies, prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe en Alida Kok, departementshoof van Sosiale Wetenskappe. (Foto: Verskaf)

Tydens die geleentheid is dié ereleerstoel se driejaarontwikkelingsplan ook uiteengesit, wat die volgende insluit:

  • Die ontwikkeling en aanbieding van ʼn honneursmodule in gemeenskap- en veiligheidstudies;
  • die ontwikkeling en aanbieding van ʼn kort kursus in veiligheidstudies;
  • die ontwikkeling en aanbieding van werksessies in veiligheidstudies;
  • die aanstelling van ʼn navorsingsgenoot onder dié ereleerstoel;
  • om ondersoek in te stel oor die totstandkoming van ʼn instituut vir veiligheid- en toekomsstudies by Akademia; en
  • om navorsing oor en opleiding in onderhandeling en mediasie in die gemeenskap te doen.

Die ereleerstoel vir veiligheidstudies is die derde ereleerstoel wat Akademia bekendstel. Die NP van Wyk-Louw vlagskip ereleerstoel in kultuuretiek word beklee deur Carel Boshoff, en die ereleerstoel in onderwysleierskap deur dr. Pierre Edwards. Dié ereleerstoele is ekwivalent aan ʼn ereprofessorskap.

Prof. Danie Goosen (Foto: Verskaf)

Tydens die geleentheid het prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, benadruk hoe Akademia se vestiging van ereleerstoele ʼn verbintenis is aan die eeueoue verering van “die professor” – dit in ʼn tydsgees skepties teenoor die professor en sy gesag.

“Hierdie verbintenis vind onder meer uitdrukking in ons verbintenis tot die amp van die ereprofessor, dit wil sê tot daardie persoon wat op ʼn selfs nog meer deurleefde wyse as die professor dinge soos waarheid, wysheid en ervaring verteenwoordig,” het Goosen gesê.

Volgens Goosen beliggaam Matthee dié eienskappe volledig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Wil hy nie maar minister word van Polisie of van die Weermag nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat van ‘n ereleerstoel vir ‘n onafhanklike Wes Kaap?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.