Mnr. X is een van die polisie se sleutelgetuies in die Farlam-kommissie se ondersoek na die Marikana-gebeure in 2012 waartydens 34 mynwerkers doodgeskiet is.
“Ek is nie oortuig dat daar voldoende gronde is om te sê dat mnr. X nie ‘n bevoegde getuie is nie,” het regter Ian Farlam beslis.
Adv. Dali Mpofu SC, wat vir die beseerde en gearresteerde mynwerkers optree, het vroeër versoek dat mnr. X vir sielkundige waarneming gestuur word. Mnr. X se identiteit mag nie bekend gemaak word nie. Hy was een van die mynwerkers wat aan die staking deelgeneem het.
“Mnr. X is ‘n baie belangrike getuie en die kwessies waaroor hy hom uitspreek is van ‘n baie ernstige aard. Die aantygings wat hy oor seker mense maak het verreikende gevolge,” het Mpofu in sy aansoek gesê.
Mnr. X het Donderdag begin getuig via ‘n videoskakel van ‘n ongeïdentifiseerde plek. Hy het onder meer getuig dat die stakers twee Lonmin-veiligheidswagte vermoor het en van hul vlees afgesny het vir moeti-doeleindes. Dit het ten doel gehad om die mynwerkers onsigbaar vir die polisie te maak, het mnr. X getuig.
Mnr. X het verder getuig dat die mynwerkers verskeie werknemers van Lonmin vermoor het omdat hulle nie bereid was om aan die staking deel te neem nie.
Die kommissie het Vrydag verdaag nadat mnr. X aangevoer het hy word getoor. Daar is ook gehoor hy hallusineer en dat daar staalplate in sy kop is.
Mnr. X se getuienis gaan voort.