Finansieringspakt: Ramaphosa sê SA het ‘lesse geleer’

Pres. Cyril Ramaphosa neem deel aan ‘n gesprek tydens die nuwe internasionale finansieringspakt in Parys, Frankryk (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag saam met tientalle wêreldleiers in Parys, Frankryk, byeengekom vir ʼn beraad wat gemik is op die hervorming van die internasionale uitleenstelsel om lande – wat met skuld oorlaai is – te help om klimaatsverandering en ander uitdagings te bowe te kom.

Die Franse president, Emmanuel Macron, sê die beraad oor ʼn nuwe internasionale finansieringspakt moet finansiële oplossings vind sodat armoede en aardverwarming gepak en die omgewing beskerm kan word. Hy is saam met die eerste minister van Barbados, Mia Mottley, gasheer van die beraad.

Ramaphosa het tydens sy toespraak gesê die beraad is ʼn waardevolle platform vir betrokkenheid wat die besprekings in die toepaslike multilaterale forums, veral die VN-Raamwerkverdrag oor Klimaatsverandering, moet aanvul – maar nie moet oorheers nie.

Volgens die president het Suid-Afrika in November 2021 ʼn historiese Gelyke Energie-oorgangsvennootskap aangekondig met die regerings van Frankryk, Duitsland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State, asook die Europese Unie.

“Hierdie vennootskap is gestig om Suid-Afrika se regverdige oorgang na ʼn lae-koolstof-ekonomie en ʼn klimaatbestande samelewing te ondersteun. Die vennote het ingestem met ʼn aanvanklike verbintenis van $8,5 miljard vir hierdie doel.”

Pres. Cyril Ramaphosa neem deel aan ‘n gesprek tydens die nuwe internasionale finansieringspakt in Parys, Frankryk (Foto: GCIS)

Suid-Afrika het sedertdien ʼn Beleggingsplan vir Regverdige Energie-oorgang opgestel wat die omvang van die finansiële behoefte op sowat $98 miljard bepaal het.

“Hierdie beleggingsplan sou beleggings in elektrisiteitsinfrastruktuur ondersteun, ondersteuning bied vir gemeenskappe en werkers in steenkoolmyngebiede, nuwe energievoertuie, groen waterstof en vaardigheidsontwikkeling. Ons het verskeie lesse geleer tydens hierdie proses.”

Die president meen dit is eerstens belangrik dat gelyke energie-oorgangsvennootskappe landsgedrewe en -besit moet wees.

“Suid-Afrika onderneem hierdie oorgang met ʼn unieke stel uitdagings wat hoë vlakke van armoede en ʼn energietekort insluit. Ons het hoë vlakke van werkloosheid onder ongeskoolde werkers, wat moontlike werksverliese in die steenkoolwaardeketting nog meer uitdagend maak. Ons het ʼn beperkte fiskale omgewing wat die vermoë van die regering beperk om maatskaplike sekerheid te bied in die geval van werksverliese.”

Die president meen tweedens moet daar meer klem geplaas word op die regverdige komponent van die oorgang, sowel in die strukturering van die beleggingsplan as in die ooreenstemmende finansiële pakket.

“Lande wat ʼn gelyke energie-oorgang onderneem, moet duidelik wees oor hoe hulle ‘regverdig’ definieer, veral wat betref die maatskaplike impak.

“Derdens, gegewe Suid-Afrika se huidige energiekrisisse, het ons besef dat buigsaamheid van kardinale belang is. Lande moet in staat wees om ʼn oorgangspad te bepaal wat ontwikkelingsdoelwitte soos energieveiligheid in ag neem.

“Dit bring my by my vierde punt: gelyke energie-oorgangsvennootskappe moet omskep word in tasbare finansiële ondersteuning. Die omvang van finansiële ondersteuning moet die ontwikkelingsvlak van die lande en die omvang van die vereiste oorgang in ag neem.”

Die president het as voorbeeld verwys na die huidige verbintenis van $8,5 miljard van vennote wat minder as ʼn tiende is van wat die volgende vyf jaar nodig sal wees vir ʼn betekenisvolle en regverdige oorgang.

“Toelaes moet ʼn aansienlike deel van die finansiële ondersteuning vorm, en enige skuldverwante voorwaardes moet aantrekliker wees as wat die land in die kapitaalmarkte sou kon verkry. Dit is belangrik dat die finansiering die verpligting van ontwikkelde ekonomieë weerspieël om verligting- en aanpassingsmaatreëls in ontwikkelende ekonomieë te finansier. Die finansiering moet voorspelbaar en seker wees.”

Ramaphosa voeg by die oorgangsproses moet ook groen industrialisasie ondersteun deur die oordrag van tegnologie en vaardighede.

“Ten slotte vereis ʼn regverdige energie-oorgang langtermynvennote wat ontwikkelende ekonomieë sal ondersteun in hul strewe na volhoubare en groen ekonomiese groei en ontwikkeling.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

annie ·

Cyril op sy stukke. Pledges en nogmaals pledges deur middel van snikke en trane en beskuldigings. Arm, onderdruk, vergete, verlore en agtergeblewe. Die foute was agv agtergebewenheid. Die ANC is foutloos. Alles wat verkeerdloop is altyd ‘ander’ se sondes. Sela.

Pietertjie ·

Die ANC is gedurig besig om “lesse te leer”. Maar hulle optrede verander nooit, wat wys dat hulle niks leer nie. Soos ‘n student wat al donkie-jare klas draf maar nog nie ‘n enkele module geslaag het nie. (behalwe miskien Tuks se “aandklasse”)

Wit Leeu ·

Ag asseblief ??? Wie gaan Ramaphosa nou glo……………………………

Owlie ·

As ‘n totaal onafhanklike international span met geen regerings invloed of inmenging na SA kom en n volledige oorsig van beplanning oordoen gaan die miljarde benodig aansienlik verminder

Sean ·

En die geld wat ons leen gaan in die kaders se sakke in Is die wereld blind?????

Suzette ·

Leer lesse, maar julle pas nie toe wat julle daaruit geleer het nie – julle ploeter voort op julle eie idees en insig wat veel te wense oorlaat. Ek wonder baie keer of LUISTER julle ooit. Want daar is duidelike bewyse in SA dat julle glad nie ag slaan op waarskuwings, voorstelle, aanbevelings, hulp ens. nie.

Papsak ·

Anc leer gedurig lesse maar doen nie hulle huiswerk op datum nie hulle skuld is altyd ander se skuld hulle altyd onskuldig tyd vir uit stem genoeg is genoeg

My siening ·

Cyrel jy en jou voorgangers het nog nooit iets geleer en voor more vergeet jy van al jul wandade!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.