Gesteelde vee deur spanwerk opgespoor

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die polisie op Harrismith het die afgelope twee dae met boere, plaaswerkers, private veiligheidsmaatskappye en AfriForum saamgespan om 18 gesteelde beeste en bokke terug te kry.

In die jongste voorval is 11 bokke Woensdagaand tydens ʼn gewapende roof in dié omgewing gesteel. Luidens ʼn verklaring deur die polisie is ʼn veewagter tydens die voorval ernstig beseer.

Die polisie, boere, private veiligheidsheidsmaatskappye en AfriForum is deur middel van ʼn aktiveringsplan ingespan om die verdagtes en gesteelde vee op te spoor.

“Soektogte is met behulp van hoëdefinisiekameras uitgevoer wat sommige van die toegangsroetes na die betrokke plaas monitor,” het Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

“Die Kestell-veediefstaleenheid het die saak verder opgevolg en nege van die 11 bokke naby Qwaqwa opgespoor en aan die regmatige eienaar terugbesorg. Twee bokke word egter steeds vermis.”

Volgens Mophiring het die verdagtes die bokke te voet aangejaag.

In nog ʼn voorval Dinsdagaand het ao. Kobus Kleingeld, die polisie se landelike veiligheidskoördineerder, inligting ontvang dat drie koeie en ses kalwers vermoedelik op ʼn plaas in die Harrismith-omgewing gesteel is. Kleingeld het boere en plaaswerkers geaktiveer waarna ʼn hommeltuig ingespan is om die gesteelde vee op te spoor. Die diere is kort daarna naby die plaas Tafelberg opgespoor hoewel die verdagtes skoonveld was.

“Al drie koeie en ses kalwers is veilig teruggevind en aan die eienaar terugbesorg.”

Die polisie ondersoek nou twee sake van veediefstal. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Impact ·

Hierdie inligting word deur werkers uit gegee en dit sal eers ophou sodra ons geleer het om ons eie werk te doen, hoe moeilik dit ook soms mag wees. Ons het in ‘n gemak sone verval en moet begin terugkeer na selfdoen, selfbehoud en selfbeskikking

Di ·

STEM SAAM! Hierdie gebeur nou net te veel, moet inligting van binne af kry

SjN ·

Die verdagtes gaan seker aanvoer hul was honger indien hul gevang word?

Mrs H ·

Soos ons honde en katte laat ‘chip’, doen dieselfde met die vee…. Opsporing is daddelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.