Grootste militêre fees in jare by VTM gehou   

Mense het Woensdag van vroegoggend na die Voortrekkermonument gestroom vir die jaarlikse Militêre fees. Dit is die derde jaar wat dié fees in samewerking met die Pro Patria Museum (PPM) gereël is.

Volgens Leonie Marais, direksielid en kurator van die PPM, asook erfenisspesialis van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), is dit die grootste militêre fees die afgelope drie jaar wat getalle betref. Duisende mense het opgeruk na die Voortrekkermonument.

Henk Maree, funksies- en feestebestuurder by die Voortrekkermonument, is dankbaar om soveel besoekers te sien. “Vir die Voortrekkermonument is dit weer eens die grootste voorreg en ondervinding om saam met die Pro Patria Museum die Militêre fees by die Voortrekkermonument te kan aanbied. Ons sien vandag weer, ʼn mens se gemeenskap is baie breër as wat jy dink. Die opkoms is ongelooflik goed en daaroor is ons baie dankbaar. Ons sien daarna uit om die fees elke jaar net groter en beter te maak.”

Die fees bied verskeie aktiwiteite vir jonk en oud. Meer as 80 stalletjies, uitstallings en ook kosstalletjies het vanjaar bygedra tot die fees se reusesukses.

Volgens afgetrede genl.maj. Lawrence Smith, voorsitter van die Pro Patria Museum, is daar vanjaar 25% meer militêre veterane-organisasies wat deelgeneem het aan die fees.

Om 09:00 is ʼn optog gehou om die fees in te lei waar Skotse doedelsakspelers die mense vermaak het met pragtige spel. Motorfietse en jong manne geklee soos soldate het ook deel uitgemaak van die optog.

Lesings deur veterane, wat stories uit die oorlogsdae vertel, is ook aangebied. George Richter was die eerste spreker wat meer vertel het oor die Recces. Richter was ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Weermag se spesiale magte. Hy het gedien in 1 Recce, 4 Recce en 5 Recce. Hy was betrokke by verskeie operasies tydens die Bosoorlog en ook Mosambiek.

Ander sprekers het gesels oor afdelings in die oorlog waarvan hulle deel uitgemaak het, soos 32 Bataljon.

“Die Militêre fees is ʼn geleentheid vir oupas om makliker met hulle kinders en kleinkinders te praat oor die bydrae wat hulle vir die land gelewer het. Die fees is ook ʼn geleentheid vir ou kamerade om weer met mekaar te gesels,” sê Smith.

Johan Harmse, oudlid van die Suid-Afrikaanse Weermag, het vanjaar vir die eerste keer die Militêre fees bygewoon. “Ek het nou drie van my oud-seniors hier raakgeloop. Dit is wonderlik, want ek het nie gedink ek gaan hulle ooit weer sien nie.”

Cornell Louw besoek elke jaar die Militêre fees saam met haar man. “Vanjaar is veral vir my besonder lekker. Dit is lekker om soveel mense hier te sien. My man was in die weermag, so ons kom elke jaar. Dit beteken vir hom so baie om ou vriende raak te loop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Hoe hoor n mens van al die aktiwiteite wat daar plaasvind. Of kan mens n lid word van die VTM

Steyn ·

Was nogsteeds iets om by tewoon, net jammer die verby vlugte en 1 0f 2 uitstallers was afwesig, verder baie goed gewees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.