Gru-ongeluk op N1 eis nege lewens

(Foto: Netcare 911)

ʼn Ongeluk tussen ʼn vragmotor en ʼn Toyota Venture op die N1 in Limpopo het die lewens van nege mense geëis. Die ongeluk het tussen Mokopane en Mookgopong in die Waterbergdistrik plaasgevind.

Min inligting is nog bekend oor die ongeluk wat omstreeks 05:00 Saterdagoggend plaasgevind het, maar volgens die provinsiale departement van vervoer en gemeenskap het die ongeluk moontlik plaasgevind nadat een van die Toyota se bande gebars het. Nege mense, onder andere vier kinders tussen die ouderdomme van twee en 12 jaar, het in die ongeluk omgekom.

Die pad was Saterdagoggend vir enkele ure gesluit, maar is teen 09:00 weer vir verkeer oopgestel.

“Die departement doen ʼn beroep op alle motoriste om te verseker hul motors is padwaardig voordat hulle die langpad aandurf en om altyd by die spoedgrens te hou,” het die departement in ʼn kort verklaring gesê.

In ʼn ander ongeluk Saterdagoggend, dié keer in Mpumalanga, is vyf mense beseer toe ʼn sportnutsvoertuig reg van voor met ʼn afleweringsvoertuig gebots het. Die ongeluk het op Dr. Enos Mabuza-rylaan in Mbombela plaasgevind.

Die afleweringsvoertuig het van die pad afgerol en vyf mense is in die proses uit die voertuig geslinger. Volgens paramedici van Emer-G-Med was die bestuurder van die sportnutsvoertuig in sy motor vasgekeer en moes hy met kake van die lewe bevry word.

Al die beseerdes is op die toneel gestabiliseer voordat hulle vir verdere behandeling na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.