Hofsaak oor River Club se skade groter as net dié ontwikkeling

‘n Voorstelling van die River Club-ontwikkeling in Observatory in Kaapstad. (Foto: The River Club/Facebook)

Die Observatory Civic Organisation (OCA) het hom in die appèlhof vasgeloop met sy poging om te appelleer teen ʼn hooggeregshofbevel rakende sy aansoek om die River Club-ontwikkeling in Observatory te stuit.

Die hof het die OCA se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys.

“Die Stad Kaapstad verwelkom die appèlhof se besluit om hierdie belangrike ontwikkeling te beskerm wat groot erfenis-, omgewing-, ekonomiese, infrastruktuur en ander voordele vir Kaapstad en sy inwoners inhou,” sê Eddie Andrews, adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir beplanning en omgewing.

Dié voordele sluit in die rehabilitasie van ʼn gedeelte van die Liesbeekrivier, die skep van ʼn groen ruimte van hoë gehalte, die vestiging van erfenisinfrastruktuur, die skep van openbare vervoerinfrastruktuur en nuwe behuising.

Andrews sê die stad respekteer die reg van die burgerlike samelewing om ongeldige besluite te betwis, maar die OCA se regstappe is “ongegrond en ʼn misbruik van die hof” en het die openbare belang ondermyn.

“Die OCA het gedreig om die enigste werkbare plan in die wiele te ry om besoedelde kanale in gerehabiliteerde riviere te rehabiliteer én ʼn private gholfbaan en parkeerterrein in ʼn erfenisbevestigende ontwikkeling te omskep wat ook bekostigbare behuising insluit,” sê hy.

Die skade wat die OCA aangerig het, strek volgens Andrews ook veel verder as die River Club-ontwikkeling.

“Die regstappe het skade aangerig aan Kaapstad se internasionale aansien as ʼn beleggingsbestemming, asook werksgeleenthede en geleenthede vir ekonomiese herstel en armoedeverligting in die slag laat bly.”

Andrews sê die uitspraak bevestig opnuut die stad se verbintenis om korrekte prosesse te volg wanneer hy ontwikkelingsaansoeke oorweeg, terwyl hy terselfdertyd uit sy pad gaan om ʼn omgewing te skep wat bevorderlik vir belegging is.

Die hofsaak het die stad se belastingbetalers reeds miljoene rande gekos en die hooggeregshof en appèlhof het beveel dat die OCA dié koste moet dra.

“Kostebevele ontmoedig kwelsugtige regstappe soos hierdie en die stad het ʼn verpligting om die openbare geld te probeer herwin. Die stad is daarom geensins van voorneme om die howe se bevele oor koste te laat vaar nie,” sê Andrews.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.