Huldeblyke beskryf Motsuenyane as ‘baanbreker’, ‘filantroop’

Dr. Sam Motsuenyane (Foto: @SAgovnews/X)

Talle boodskappe van medelye het ingestroom ná die dood van dr. Sam Motsuenyane, ʼn man wat beskryf word as ʼn een van die land se invloedrykste sakeleiers.

Motsuenyane is Maandag dood. Hy was 97 jaar oud.

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), sê Motsuenyane laat ʼn “lang, maar duidelike ry spore vir die huidige en toekomstige geslagte om te volg”.

“Hy laat ook ʼn trotse nalatenskap van sakeuitnemendheid sowel as leierskap in die organisasie en mobilisering van sake-entrepreneurs na,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Bedrewe boer, sakeman, filantroop

De Jager sê as ʼn netwerk van familieboere vier Saai Motsuenyane se lewe omdat hy nie net ʼn groot sakeman was wat slim beleggings gedoen het nie, maar ook ʼn grondeienaar, boer in die Winterveld-omgewing en ʼn primêre produsent op ʼn familieplaas. “Sy standpunt, dat boerdery ʼn onderneming en veel meer as net ʼn landelike bestaan is en soos enige ander onderneming winsgewend en mededingend moet wees, word steeds nie deur beleidmakers en ontwikkelingshulpagentskappe waardeer nie,” sê De Jager.

“Saai glo egter dat dié beginsels eendag erken sal word as die grondslag vir die vestiging van ʼn beduidende klas suksesvolle swart boere in Suid-Afrika en in die omliggende streek. Saai betuig, namens klein- en mediumgrootte boerderye oor die hele land heen, sy medelye met Motsuenyane se familie en deel saam in hul verlies.”

Herman Mashaba, president van ActionSA en self ʼn suksesvolle sakeman, het Motsuenyane as ʼn “baanbreker” bestempel.

Motsuenyane was onder meer die medestigter van die National African Federated Chamber of Commerce (Nafcoc) en African Bank.

Hy was goeie vriende met Mashaba en sy vrou, Connie. “Ons het sy uitgesproke kritiek oor die land se rigting in die moeilike omstandighede tydens apartheid waardeer.

“Ek het die voorreg gehad om saam met dr. Motsuenyane te werk tydens my termyn as voorsitter van die Vryemarkstigting, met hom as president,” sê Mashaba.

Uitsonderlike leier

Motsuenyane het die grootste deel van sy volwasse lewe bestee aan die struggle om die swart gemeenskap in Suid-Afrika van politieke en ekonomiese onderdrukking te bevry, sê Temba Nolutshungu, direkteur van die Vryemarkstigting.

“Hy sal geweldig gemis word deur almal by die Vryemarkstigting wat gebaat het by sy wysheid, helder visie en dapperheid.”

Nolutshungu sê hy onthou Motsuenyane as ʼn “welwillende, holistiese” man en gebruik ʼn aanhaling van Nan Witcomb om sy herinnering te verwoord: “Ons hoef nie staat te maak op herinneringe om die gees van dié wat ons liefgehad het en verloor het op te roep nie – hulle leef in ons siele in ʼn perfekte toevlugsoord wat selfs nie die dood kan verwoes nie.”

Dr. Sam Motsuenyane (Foto: Dr. Sam Motsuenyane Foundation/X)

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het ook hulde gebring.

“Motsuenyane het ʼn bewonderenswaardige voorbeeld gestel as ʼn suksesvolle sakeman, toegewyde filantroop en voorstander van selfstandigheid en markoplossings in plaas van staatsinmenging,” sê Le Roux.

Die vereniging vir swart energie- beroepslui (Bepa) het Motsuenyane as ʼn “baanbreker in die sakesektor” bestempel en ʼn man wie se lewenstaak die landskap van entrepreneurskap en bemagtiging in Suid-Afrika aansienlik verander het.

Die vereniging sê deur sy loopbaan het Motsuenyane die beginsels van eenheid, ekonomiese bemagtiging en selfstandigheid voorgestaan. Sy pogings was deurslaggewend in die skep van beleid wat swart entrepreneurskap in Suid-Afrika bevorder.

Sy nalatenskap gaan voort om huidige en toekomstige geslagte sakeleiers te inspireer, sê die vereniging.

“Terwyl ons treur oor sy dood, vier ons ook sy merkwaardige lewe en bydraes,” sê Meta Mhlarhi, medestigter van Bepa. “Sy lewe herinner ons aan die uitwerking wat een mens op die lewe van talle ander kan hê.”

Dr. Sam Motsuenyane (Foto: @SAgovnews/X)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.