In foto’s: Honger en hoop op Touwsrivier

Touwsrvier stasie (FOto: Ashraf Hendricks/GroundUp) Deur Anna du Plessis, GroundUp/Foto’s: Ashraf Hendricks

Touwsrivier se treinstasie, wat eens gewemel het van reisigers op soek na ʼn maaltyd of oorslaapplek op pad na die Karoo of die kus, het ʼn sentrale rol in die dorp se florerende ekonomie gespeel. Maar alles het verander met die oorskakeling na padvragvervoer in die 1990’s.

Dié dorpie, op die grens van die Boland en die Karoo, steier onder ekonomiese aftakeling, tekenend van soveel ander klein Suid-Afrikaanse dorpies. Die werkloosheidsyfer staan op sowat 80%. Talle sakeondernemings het hul deure gesluit en baie inwoners ly honger.

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp) TouwsrivierDie meeste van die dorp se inwoners steun primêr op staatstoelae vir oorlewing. Sommige vind werk op omliggende plase, maar die vooruitsigte is skraal in veral die herfs- en wintermaande wanneer plant- en oeswerk opdroog.

Talle van die dorp se inwoners kan kwalik ʼn maaltyd bekostig en word as “voedsel-onseker” geklassifiseer. Sommiges koop klein hoeveelhede kos op skuld.

Heelparty inwoners maak ook staat op die kos wat gemeenskapskombuise, kerke of nie-regeringsorganisasies verskaf. Compassionate Hearts is ʼn gemeenskapskombuis wat elke dag vir tot ʼn duisend mense kos gee.

Dit is ʼn omslagtige proses om al die prosesse en regulasies vir regeringshulp te volg, maar die span van Compassionate Hearts prioritiseer die onmiddellike lewering – selfs al is dit net ʼn eenvoudige maaltyd van ʼn toebroodjie met grondboontjiebotter.

Johanna Solomon, stigter van die Emmanuel-sentrum vir vroeë kinderontwikkeling op Touwsrivier, het eerstehandse kennis van die uitwerking wat honger op die kinders in haar sorg het. Onvoldoende voeding beteken hulle konsentreer swak – en dit het weer ʼn uitwerking op hul akademiese prestasie.

Die span by die sentrum verseker dat die kinders in hul sorg elke dag twee maaltye kry. En dikwels pak personeel – altyd diskreet – ʼn ekstra pakkie pap of rys in ʼn klein maatjie se rugsak vir ʼn familie wat dalk tuis niks meer het om te eet nie.

Ekonomiese ontwikkeling en werkskepping is deurslaggewend om voedselonsekerheid en wanvoeding onder soveel van Touwsrivier se inwoners te pak. Klimaatsverandering in hierdie dorre streek beteken egter dat innoverende maniere gevind moet word om die broodnodige werksgeleenthede te skep. Die Touwsrivier- kommersiële hidroponikaplaas is een só ʼn poging.

Rudie Moses lei ʼn span van tien werkers op die plaas op. Hulle bedryf ses hidroponiese tonnels en kweek weekliks sowat 4 000 koppe blaarslaai. Dit word dan aan verskeie restaurante en markte in die omgewing verkoop.

ʼn Onlangse vergadering tussen beleidmakers, regeringsverteenwoordigers, akademici en plaaslike inwoners om die dorp se gespanne voedselsituasie te ontleed en moontlike oplossings vir ʼn veilige en volhoubare voedselstelsel te vind, het ook gelei tot ʼn besoek van die Wes-Kaapse departement van landbou wat daarna ingestem het om groter steun aan gemeenskapstuine te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.