Inskrywings vir Helgaard Steyn-prys ingewag

Foto: Fotografierende/Unsplash.com

Die trustees van die Helgaard Steyn Testamentêre Trust het bekend gemaak dat inskrywings tans ingewag word vir die 2020 Helgaard Steyn-toekenning vir Afrikaanse skryfkuns. Boeke wat in die tydperk 2016 tot 2019 gepubliseer is, word in aanmerking geneem.

Skrywers wat voorheen dié gesogte prys ontvang het, sluit onder meer Willem Anker, PG du Plessis, Hermann Giliomee, Marlene van Niekerk en Breyten Breytenbach in.

Die Helgaard Steyn-toekenning is nie net geldelik een van die grootstes nie, maar dit is ook een van die gesogste pryse wat jaarliks vir die bevordering van die kunste beskikbaar gestel word. Dit word om die beurt vir skilderkuns, musiek, beeldhoukuns en skryfkuns toegeken.

Uitgewers word genooi om Afrikaanse woordkunspublikasies, wat in die genoemde tydperk uitgegee is, voor te lê vir beoordeling met die oog op die 2020-toekenning. Die Helgaard Steyn-trustakte bepaal dat persone van enige geslag of ras vir die toekenning in aanmerking kan kom, mits sodanige persoon in Suid-Afrika gebore is of ten minste twee derdes van sy of haar lewe in Suid-Afrika deurgebring het.

Publikasies wat aan die genoemde vereistes voldoen, moet deur die onderskeie uitgewers benoem word vir oorweging by beoordeling. Inskrywings moet alfabeties volgens skrywersvanne op ’n lys geplaas en voor 30 Mei 2020 per e-pos aan Vincent Eastes na [email protected] gestuur word. Eastes tree vanjaar as koördineerder van die toekenningsproses op.

Prof. BJ Odendaal, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, en prof. HJ Pieterse van die Universiteit van die Vrystaat, behartig vanjaar die beoordeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.