Kaapstad: Waterbeperkings opgehef; tariewe verlaag

Die Theewaterskloofdam is 100% vol. (Foto: @Louis96018668/ Twitter)

Nadat deurlopende assessering die afgelope paar maande gedoen is, het die Stad Kaapstad eenparig sy steun toegesê aan ʼn besluit om waterbeperkings op te hef en na die laagste watertarief oor te skakel.

Daar sal volgende week oor die voorstel gestem word.

Die stad het alle rolspelers, inwoners, raadslede en gemeenskappe bedank vir die belangrike vennootskappe wat die Moederstad deur ʼn bykans ongekende droogte en hersteltydperk bygestaan het.

Die besluit om die beperkings op te hef berus op drie oorwegings.

Die eerste is die nasionale departement van water se besluit om beperkings wat geld vir die Wes-Kaapse-watervoorsieningstelsel van gedeelde damme – waarvan Kaapstad ʼn gebruiker is – op te hef. Die damme in dié stelsel is reeds propvol.

Die stad se vooruitskattings dui ook daarop dat die kans skraal is dat damvlakke teen volgende winter tot onder 50% gaan daal. Die ophef van alle beperkingsmaatreëls, buiten bestaande regulasies wat permanent geld, maak voorsiening daarvoor dat water steeds slim gebruik word.

Aanduidings is ook dat verwagte watergebruikpatrone in die somer sodanig gaan wees dat water- en sanitasietariewe na die laagste vlak oorgeskakel kan word.

Die burgemeesterskomitee sê hy het nog altyd ʼn proaktiewe benadering tot die bestuur van hulpbronne gehad – finansieel en natuurlik – en dat hy die besluit graag steun. Danksy die stad se bestuur het hy gegaan van een van die ergste droogtes wat die stad in jare geteister het, na vol damme en geen beperkings nie.

“Hoewel ons klimaatsonsekerheid in gedagte moet hou, kan inwoners wat gemaklik is daarmee hul waterbesparingsmaatreëls begin verslap, terwyl hulle steeds waterwys optree, danksy die beduidende styging in damvlakke,” het Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, gesê.

“Die verwagte beweging in die warmer somermaande is in die gebruikerspatrone in berekening gebring in die besluit om die tariewe van die tweede laagste vlak na die laagste – geen beperking nie – maar steeds waterwystarief te verminder.”

Die raad het die tarief vroeër reeds goedgekeur.

“Hierdie laagste tarief gaan finansiële verligting vir inwoners bring, terwyl ons steeds betroubare waterdienste kan lewer en kan belê in nuwe waterbronne,” het Plato gesê.

Hy sê die droogte het dit duidelik gemaak dat die stad in toekomstige waterbronne moet belê.

“Die opbou van veerkragtigheid teen klimaatsverandering kom teen ʼn prys, maar dit gaan op die lang termyn verseker dat water nog geslagte lank volhoubaar beskikbaar is.”

Hy sê die stad gaan voort om kostebesparende en waterslim planne in werking te stel en inwoners word steeds aangemoedig om waterwys te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.