Kind skuil in klaskamer ná ouma hom glo aanrand

(Argieffoto: Pixabay.com)

’n Seuntjie (6) het verlede week in ’n klaskamer by sy skool naby Ermelo in Mpumalanga geskuil nadat sy ouma hom glo met ’n byl by die huis aangerand het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring ’n lid van die gemeenskap het Vrydag ’n graadeen-leerder omstreeks 15:30 in sy skoolklere opgemerk wat alleen in ’n straat rondgedwaal het.

Volgens Hlathi het die persoon die seuntjie na die betrokke skool geneem. Die kind het dadelik in ’n klaskamer gaan skuil waar ’n onderwyser, wat die klaskamers nauurs sluit, op die kind afgekom het. Die onderwyser het ’n gesprek met die seun aangeknoop om vas te stel waarom hy in die klaskamer wegkruip en nié by die huis is nes al sy ander maats nie.

Die kind het die onderwyser vertel dat hy gereeld deur sy ouma (40) by die huis aangerand word waarna die onderwyser die plaaslike polisie ontbied het.

Hlathi sê die seuntjie is in die geselskap van verskeie onderwysers aangetref. Die kind het verskeie kneusplekke aan sy lyfie gehad en onbeheers gehuil en gebewe.

Volgens Hlathi kon die seuntjie ook nie behoorlik loop nie. ’n Ondersoek het later daarop gedui dat die seun met ’n byl by die huis aangerand is. “Luidens inligting tot die polisie se beskikking was die slagoffer die oggend laat vir skool, wat daarop dui dat hy moontlik gesukkel het om skool toe te loop vanweë dít wat hy by die huis moes deurmaak,” sê Hlathi.

Die kind is na ’n kliniek geneem waar hy na die Embhuleni-hospitaal verwys is weens die ernstige aard van sy beserings. Maatskaplike werkers se hulp is sedertdien ingeroep en die kind is tans in hul sorg.

Die seuntjie se ouma is sedertdien in hegtenis geneem en het Woensdag in die rondgaande hof in Mayflower op aanklag van aanranding verskyn.

Sy is intussen op borgtog van R500 vrygelaat en sal weer op 30 Maart in die hof verskyn.

“As vroue wat veronderstel is om kinders te beskerm diegene op die voorpunt van kindermishandeling is, is ons samelewing besig om op ’n ramp af te stuur,” sê lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiehoof, in reaksie op die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Martie ·

Sy is nie n ouma nie. Sy is iets wat honde uitbraak maar nie ‘n ouma nie

Louise ·

sulke goed maak my kwater as n mens. Hoekom gebeur sulke goed en HOEKOM word die ouma op borgtog vrygelaat! Het iemand DADELIK gaan ondersoek instel om te kyk of daar ander kinders in haar sorg is! Maar wat gewoonlik gebeur is die ouma word ondersoek en gaan vir berading en as sy kan bewys sy gaan nie die kind weer seermaak nie. dan gee hulle bloot die kind net trug. Die wet maak my siek van ons land!

Cindy ·

Die land is omtrent siek. Ander probleem natuurlik is mamma druk een na die ander kleintjie uit en verwag ouma – vir wie daar eintlik in haar ou dag gesorg moet word – moet maar noodgedwonge kleintjies grootmaak.. NIE dat dit ‘n verskoning is nie, maar wanneer ons regering eendag die oorbevolking begin aanspreek (en ophou toelae uitbetaal vir horde kleintjies!) sal dinge dalk bietjie beter gaan

Magda ·

R500 borgtog – Dit is hoekom hulle met alles weg kom. Dit moet MOEILIK en ONDRAAGLIK gemaak word, dan sal alle Misdade dalk stop – Sy moet permanent toegesluit word , verdien niks minder of beter nie – OUMA NIE DIE NAAM WERD NIE – GEMORS

bekommerd ·

nou sien julle…dis sulke gevalle wat maak dat ek sommer my eie badwater wil opdrink.

Antjiepat ·

Liewe genade.. nou word die ou mense ook al kens in hierdie land van ons

Astrain ·

Borg van R500??? Regtig??? Sy behoort aangekla te word vir poging tot moord en in die tronk sit tot haar hof verskyning! Dis hoekom dinge soos Tazne van Wyk se moord gebeur, die arme kindjie gaan seker nog terug gestuur word na haar toe en sy SAL hom vermoor…met daardie selle byl…

Belinda ·

Weereens, nog ‘n klein kindjie, Gr1 is hoogstens 7/8 jaar oud. Wat regverdig om hom met ‘n byl aan te rand en is lyfstraf dan nie juis oor dit afgestel, wel dit gaan nog net so goed voort en die ander wat nei mag gebalnseerde lyfstraf kry nie, raak soos die.

Maryke ·

Net R500 borgtog?? Is julle ernstig? Niemand is meer bang vir wat kan gebeur wanneer hulle iets onwettigs doen nie, want dit is nie n regte straf nie. Dos pateties!

Irene ·

Hierdie kan nie ‘n ouma genoem word nie. Om jou kleinkind aan te rand met ‘n byl. Jy moet verseker mal wees. Weerlose kinders is deesdae die teiken van geweld. Hoe siek is dit nie. Kinders is veronderstel om ouers en grootouers te vertrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.