Kind val agt meter ver in boorgat

(Foto: ER24

’n Babadogtertjie is Donderdag ná ure se gespook uit ’n boorgat gebring nadat sy in die boorgat by ’n huis in Phokeng naby Rustenburg geval het.

Die kind, vermoedelik een jaar oud, het agt meter na onder geval.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê gemeenskapslede het omstreeks 12:15 met paramedici en brandbestryders se aankoms op die toneel om die oop boorgat saamgedrom.

Lede van die Royal Bafokeng-mynreddingspan het kort daarna ook op die toneel aangekom en toerusting, onder meer ʼn graafmasjien, is ingespan om die dogtertjie na die oppervlak te bring.

Nadat die boorgat vergroot is, is ’n reddingswerker na onder laat sak. Die reddingswerker kon die dogtertjie se hand gryp en haar na bo trek.

Die reddingsoperasie het sowat vier uur lank geduur, sê Meiring.

Die dogtertjie is op die toneel ondersoek voordat sy na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is. Dit is nie bekend of die kleinding ernstige beserings tydens die val opgedoen het nie.

(Foto: ER24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.