Kletsrymer sak inmekaar by Ultra- elektroniese musiekfees

Costa Titch (Foto: Twitter)

Die veelbekroonde kletsrymer, Costa Titch, is dood nadat hy Saterdagaand tydens die Ultra- elektroniese musiekfees by die Expo Centre in Nasrec, Johannesburg, op die verhoog inmekaargesak het.

ʼn Video van hoe die kletsrymer op die verhoog by een van die wêreld se grootste elektroniese musiekfees inmekaarsak, word wyd op sosiale media versprei.

Ná sy val het die kletsrymer glo mediese behandeling ontvang.

Bespiegeling oor sy dood is op sosiale media aangevuur deur verskeie aanlyn plasings, maar daar is nog nie amptelike bevestiging oor die oorsaak van sy dood nie.

Costa Titch, oftewel Constantinos Tsobanoglou (27), se familie het in ʼn verklaring gesê hulle probeer sin maak van die kletsrymer se “skielike afsterwe”. Hulle versoek dat mense hulle die nodige ruimte en tyd sal gun om oor hul geliefde te rou.

“Ons bedank ons seun se aanhangers vir hul ondersteuning oor die jare,” sê die familie.

Die familie het ook die nooddienste en “almal wat hul seun in sy laaste ure op aarde bygestaan het” bedank.

Costa Titch is oorspronklik van Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga.

Hy is bekend vir vele treffers soos “Activate” en “Nkalakatha”.

Sy dood volg skaars ʼn maand nadat nog ʼn kletsrymer, Kiernan Forbes, bekend as AKA, in Durban doodgeskiet is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.