Kommer oor groot aantal tienerswangerskappe

Argieffoto

ʼn Totaal van 90 037 skoolmeisies tussen die ouderdom van tien en 19 jaar oud het die afgelope jaar in Suid-Afrika geboorte geskenk.

Dit volgens ʼn skriftelike antwoord deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, op ʼn parlementêre vraag van die DA.

Die geboortes is almal tussen Maart 2021 en April 2022 in Suid-Afrika aangemeld en kenners meen dié meisies keer waarskynlik nie terug skool toe ná die geboorte nie.

Omtrent 3% (3 011) van die totale aantal tieners wat geboorte geskenk het, was tussen die ouderdom van tien en 14 jaar oud. Die res was almal ouer as 14.

Volgens die statistieke is die meeste geboortes onder tieners die afgelope jaar in KwaZulu-Natal (24 230) aangemeld, gevolg deur Gauteng (13 814), die Oos-Kaap (12 582) en Limpopo (11 287). Dié statistieke, sê die DA, is uiters kommerwekkend.

Motshekga het nie vorige jare se statistieke van tienerswangerskappe in haar antwoord bekend gemaak nie.

Volgens ʼn artikel in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal wat in April vanjaar gepubliseer is, het 2 726 tieners tussen die ouderdom van tien en 14 in 2017 geboorte geskenk, teenoor die 3011 in 2021. Dit wil egter voorkom of die totale getal geboortes onder tieners vir die ouderdomme tien tot 19 jaar sedert 2017 afgeneem het, toe 117 055 tieners geboorte geskenk het.

Ondersteuning aan swanger tieners

Motshekga het in haar antwoord gestel dat daar van skole verwag word om ʼn omgewing te skep waar alle swanger leerders toegang tot professionele advies, verwysings, behandeling, sorg, berading en ondersteuning kan kry.

Volgens die minister moet die departement van onderwys ten alle tye die regte van dié leerders beskerm. Daar moet ook seker gemaak word dat leerders hul opvoeding kan voortsit ondanks hul afwesigheid weens die swangerskap.

“Hierdie leerders moet so ver moontlik geakkommodeer word in verband met hul skoolwerk, terwyl die vroegste terugkeer na die skool gefasiliteer word,” sê Motshekga.

Op Van der Walt se vraag oor wat die implikasies is wanneer leerders op ʼn jong ouderdom swanger word en nie skool klaarmaak nie, het die Motshekga nie geantwoord nie.

Yolandi Singleton, ʼn maatskaplike werker en hoof van Ons Sentrum-kinderterapiesentrum van Solidariteit Helpende Hand, sê daar is emosionele, maar ook finansiële gevolge wanneer hierdie leerders nie skool voltooi nie.

Singleton sê meisies keer gewoonlik nie ná hul swangerskap terug skool toe nie omdat hulle skaam en verneder voel en ook bang is dat hulle nie weer die skoolwerk sal kan inhaal nie. Soms is die ouers ook nie ondersteunend genoeg nie en weier om die leerder se skoolgeld te betaal.

“Dié meisies kan nie werklik ʼn loopbaan bou of hulself met meer vaardighede toerus nie. Dit loop dan uit op werkloosheid en gevolglik kan die ouer nie finansieel vir die baba sorg nie,” sê Singleton.

Van der Walt eis intussen meer duidelikheid oor hoeveel van hierdie meisies ná hul swangerskap terugkeer skool toe en skoolopleiding voltooi.

“Die DA is bekommerd daaroor dat van hierdie meisies nie skool klaarmaak nie, wat beteken dat hulle ook nie verder kan studeer nie.

Die DA beoog om skriftelike opvolgvrae aan Motshekga voor te lê om duidelikheid te kry oor alle onbeantwoorde vrae en uitstaande statistieke.

Wynand Boshoff, die VF Plus se hoofwoordvoerder van basiese onderwys, meen die groot aantal tienerswangerskappe is weer eens ’n bewys dat daar iets fout is in die samelewing.

“Daar is baie druk op tieners om te presteer, veral in omgewings wat weens armoede hulle hoop juis op die volgende geslag stel. Terselfdertyd kry tieners nie die nodige ondersteuning om aan hierdie verwagtings te voldoen nie en daarom kry gedrag wat ontoepaslik vir die ouderdom is, dikwels die oorhand,” sê hy.

“Hierdie is nie ʼn probleem wat deur die staat opgelos kan word nie, hoewel die staat geriewe kan skep wat sal help. Gemeenskappe behoort saam te staan om ʼn herlewing van morele waardes, hoop op die toekoms, en geskikte ontspanningsgeriewe te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Julius ·

Word seksonderrig nie nou in skole aangebied nie? Godsdiens in mos verbode in skole.

SANET ·

Wel daar behoort geen verbasing te wees nie. Die regering moedig dit aan met die geld wat maandeliks toegeken word. Onskuldige kinders word in die lewe gebring en die toelaag word misbruik deur die ma.

miche ·

Ek wil nie onsensitief klink nie maar ek wonder hoeveel van hierdie skoolkinders gaan volgende jaar weér swanger wees? Gaan die seuns ( of moontlik onderwysers) wat hierdie dogters swanger gemaak het, aangekla word? Nog oor die 90 000 ekstra SASSA toelae wat uitbetaal gaan moet word…

Nico ·

Godsdiens word verbied in skole, wat word van die mans persoon wat ‘n aandeel het aan die swangerskappe, weereens die groepsdruk, drank en dwels.

Nico ·

Mans persone is ook skuldig, ‘n jong meisie kan nie vanself swanger word nie, die mans pas baie maklik druk op ‘n jong meisie net om hul sin te kry, daarna stap hy weg en los die jong meisie net so met die probleem. Die Woord van God stel dit duidelik geen seks voor die huwelik nie, o, voordat ek vergeet, die Bybel is mos net ‘n storieboek.

Snowball ·

Waarom word daar nie geregtelike ondersoeke gedoen wanneer kinders van 10 -14 swanger word nie? Is dit nie statutêre verkragting nie? Dis KINDERS!! Hoe kan iemand dink ‘n kind van 10- 14 het die vermoë of intellek om te besluit of hulle seksueel aktief gaan wees? Dis banaal! Word die ouers van dié kinders ooit aangekla vir verwaarlosing, of staan hulle net by in die ry wanneer die “grant” uitbetaal elke maand?

NWT ·

Wel ek mis een sin….. dus opvoeders se skuld dat leerders swanger raak. Kan nou Angie en die regering jy blameer mos net die opvoeders. Hoekom noem jy dit nie. Een van die dae blameer julle mos die opvoeders vir hoe aborsie gevalle. Dit terwyl die regering noem dat leerders vir aborsies mag gaan sonder hul ouers se toestemming. Maar die leerders mag nie n dokter gaan sien sonder hul ouers se teenwoordigheid nie. Hoe stupid is dit.

Kom nou Angie blameer ons……

Oe la la ·

Ja en wie se skuld is dit? Wanneer daar hard en reguit met hulle gepraat word om hulle boeke oop te maak en bene toe dan skend ons mos hulle regte?

Swerwer ·

Waaroor die kommer oor minderjarige swangerskappe. Bedank die Regering daarvoor, die kinders kry mos die opvoeding van die Regering en ONDERWYS .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.