Die sewe mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ses mans vermoor het in Kraaifontein, het Vrydag in die Blue Downs-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê landdros Tammy Lendor het die saak tot Dinsdag uitgestel. Staatsaanklaer Hamley Marquard het gesê die sewe mans staan elkeen tereg op ses aanklagte van moord.
Die beskuldigdes is Bandikhaya Koni (37), Tshepo Alfred Mathabela (36), Mncedisi Nditha (37), Montile Tyokhwe (34), Ayanda Koni (19), Ayanda Booi (24) en Michael Ncasa. Die aanklagte teen Ncasa is egter teruggetrek weens ʼn gebrek aan bewyse.
Ntabazalila het gesê die beskuldigdes bly in aanhouding by die Pollsmoor-gevangenis. Volgens hom is die ondersoek nog aan die gang en verwag die polisie om nog arrestasies te maak.
Die ses oorledenes, tussen 18 en 30 jaar oud, se liggame is op 9 Desember in ʼn veld in Joostenbergvlakte gevind. Hulle hande was agter hul rûe vasgebind.
Lees meer oor Kraaifontein op Maroela Media