Kyk: Sesjarige blitsig op BMX

Nathan Brits (6) in aksie. (Foto: Verskaf)

Nathan Brits mag dalk net ses jaar oud wees, maar wanneer hy op sy Supercross BMX-fiets klim, durf hy elke rit met net soveel dryfkrag as ʼn grootmens aan.

Dié graad R-leerder van Laerskool Totiusdal in Waverley, Pretoria, het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy sy land by die BMX Afcon-kampioenskap in Bulawayo in Zimbabwe op 21 April verteenwoordig het.

Nathan het vir groot opwinding gesorg toe hy stof in sy mededingers se oë om die Busters-baan gery en ʼn goue medalje verower het. Dit was geen klein oorwinning nie, aangesien hy twee weke voor die resies teruggekeer het van sy besering nadat hy sy sleutelbeen gebreek het.

Nathan was laas jaar in die beginnersafdeling in aksie en vanjaar as ervare ryer.

Hy het wel elke nou en dan oor sy skouer geloer om te sien waar sy mededingers is, maar oor die laaste paar meter was dit neusie verby.

Nathan se pa, Norman, en ma, Leanna, was albei langs die baan om sy oorwinning te aanskou. Norman het ná afloop van die wedren met sy arms in die lug na die eindstreep gehardloop om sy seun geluk te wens.

Nathan Brits. (Foto: Verskaf)

“Nathan het nie ʼn bang haar op sy kop nie. Hy wil elke keer net vinniger jaag. Hy is mal oor die sport,” vertel Leanna aan Maroela Media.

Van die land self het die Brits-gesin nie veel gesien nie. Nathan was wel baie in sy skik met die plaaslike Spur, wat hulle ná die wedren besoek het.

“Nathan kan nou nog nie uitgepraat raak oor die massiewe Spur-restaurant nie. Hy is so lief vir ʼn kaasburger en ʼn cream soda float.”

Dit was sy eerste Afcon-kampioenskap, maar beslis nie sy laaste nie. Hy is ywerig om aan nóg wedrenne deel te neem.

“Ons is so trots op Nathan! Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms op jou fiets vir jou inhou nie.”

Nathan se groot liefde vir die sport het eers in Junie 2022 begin, nadat hy by Eduplex se “pump track” op sy balanseerfiets vir die pret gaan ry het. Hier het hy gesien hoe ander seuns BMX ry en wou toe sommer ook op een klim.

Hy het aan die begin gesukkel, maar net ʼn maand later was dit vir Nathan tweede natuur. Dieselfde jaar nog, op die ouderdom van vier, het hy reeds aan sy eerste kompetisie deelgeneem.

Nathan het verlede jaar by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in ʼn ouer ouderdomsgroep deelgeneem en het steeds ʼn vierde plek behaal.

⁠Nathan oefen een keer ʼn week saam met sy afrigter Alex Whitehead en doen ʼn paar keer ʼn week groepoefeninge by Kempton Park se BMX-baan saam met die voormalige SA kampioen Dylan Whittle. Whitehead is ook ʼn ervare ryer waar hy in die elite-kategorie ʼn silwermedalje by Afcon verower het.

“Nathan is gedurig op sy fiets. Dit maak my steeds senuagtig, maar hy geniet dit gate uit,” het Leanna gesê.

“Hy wil nommereen in Suid-Afrika wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.