Lang messe uit oor partye se kandidaatlyste

Die lang messe is uit in politieke partye namate die spertyd vir die indiening van kandidaatlyste vir vanjaar se verkiesing nader kom.

Geen party se kandidaatlyste is al voltooi nie so baie van die messe is nog in die skede, maar in sommige gevalle flits die lemme reeds met bykans Bisantynse geslepenheid soos wat politici – tans nog agter die skerms, maar nie meer vir lank nie – gereed maak om hulself vir die volgende vyf jaar se magsposisies te posisioneer.

Uit ANC-kringe word verneem dat die party se etiekkomitee nie minder nie as 32 van die kandidate wat deur ANC-takke op lyste geplaas het, om etiese redes voorlopig afgekeur het.

Die besluitnemende ANC-ringkoppe, spesifiek die party se nasionale werkkomitee en nasionale uitvoerende komitee, sit glo met die hande in die hare oor van die aanbevelings wat, so word beweer, ook sekere omstrede kabinetslede insluit.

Die DA se twee grootste kopsere blyk sekere nominasies uit die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal te wees.

In die Wes-Kaap het die uittredende provinsiale premier, Helen Zille, aan die hoof van die seleksieproses gestaan. ‘n Botsing tydens die seleksieproses tussen haar en die voorsitter van die DA se federale dagbestuur, James Selfe, wat die DA se LP vir Muizenberg is, het tydens sy onderhoud met die keuringspaneel voorgekom en word tans geskik.

In KwaZulu-Natal is Siphesihle Dube, wat van Pinetown buite Durban afkomstig is maar tans in Kaapstad woon en werk as woordvoerder van die Wes-Kaapse minister van vervoer, Donald Grant, op ‘n verkiesbare posisie op die lys.

Nou het John Steenhuisen, DA-hoofsweep, ‘n foto op sosiale media opgespoor waar Dube die onlangse verjaardagpartytjie van Patricia de Lillie, GOOD-leier, bywoon en saam met haar poseer. Op grond daarvan en gegrond op kritiek wat Dube in die verlede teenoor die DA uitgespreek het, meen Steenhuisen dat Dube gediskwalifiseer moet word as DA-kandidaat.

Uit die EFF is regstreekse inligting skraps, maar meer as 40% van hul kandidate wat in 2014 tot die parlement verkies is, het bedank of is afgedank, en die gerugte is dat dit daar ook maar rof gaan, hoewel die verwagtinge dat hulle hul posisie op stemdag sal verbeter, protes temper.

Nuus uit die VF Plus is dat die party se Gautengse leier, adv. Anton Alberts, die party se premierskandidaat is.

Die kandidaatlyste van die onderskeie politieke partye sal na verwagting binne die volgende twee weke gepubliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ansie ·

My kop is te plat om enigiets te verstaan wat in die berig staan…

Karolis ·

Hahaha, Ansie ek verstaan jou ook beter as dit wat in die berig staan.
Ons is twee.

Jannie ·

EK BETWYFEL DIT BAIE STERK OF HIERDIE VERKIESING WEL GAAN PLAASVIND!!!

Genoeg ·

En ek by is drie. Al wat ek van die hele gedoente verstaan is: Chaos

Dries du Toit ·

Dan is julle koppe glad nie plat nie. Dit is presies wat dit is. CHAOS

Realis ·

Is die chaos dalk die rede hoekom die ANC nognie verkiesingsplakate opgehang het nie? Die DA het die pale al blou geplak. Hier en daar sien jy ‘n VF+ plakaat maar geen EFF of ANC plakate nie. Of het hulle nie meer geld nie?

Marietjie Blignaut ·

Hoop net kandidastlyste word wyd versprei sodat ons as kiesers ‘n ingeligte besluit kan neem WIE ons in die Parlement, die Wetgewers in elke provinsie en Die Raad van Provinsies wil sien. Dit help nie ons stem vir ‘n party en dan kan die no 1 – 10 persoon op die lys Niks vir ons as kieser beteken nie. Dis baie belangrik wanneer daardie kruisie getrek word!

At Dippenaar ·

Nou skarrel hulle om op die lyste te kom. Het nie ‘n benul van politiek nie maar kandidate wil hulle wees. Oë vol DOLLAR tekens. $$$$$$$$$$$$$$$$$$$$$$$$$$. En die kiesers is te dom om dit te besef.

Johann Jordaan ·

Van die plakate op die pale en chaos gepraat, beide die EFF en ANC het finansiele probleme daar is van die maatskappye wat plakate en advertensieborde vir die ANC maak begin om ander partye te nader vir werk. Rede is die ANC betaal nie hulle fondse is min!

Willem Boshofd ·

Waardering vir ‘n baie insiggewende artikel. Die verwysing na ‘Bisantynse geslepenheid’ is vir my nuut. Ken iemand die oorsprong daarvan?

Willem ·

Waardering vir ‘n baie insiggewende artikel. Die verwysing na ‘Bisantynse geslepenheid’ is vir my nuut. Ken iemand die oorsprong daarvan?

MadHat ·

Skuus as hierdie ne die regte forum is vir my insette nie. Die opskrif Lang Messe uit… Spook by my. Ek is ‘n oud polisie lid en voor my ontslag 1995 was die sprake van die nag van die lang messe of Uhuru ‘n werklikheid wat NIE gaan oorwaai nie. Tot nou die dag ook audio file gehoor waar die nag van die lang messe weer genoem was met ‘n waarskuwing dat ons wit mense paraat moet wees…. Gaan dit oor geld of bloedvergieting?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.