Lewende monument vir vroulike slagoffers in Mosselbaai geplant

Voor v.l.n.r: Bernard Pieters (Kaapse Forum), Dirk Kotzé (uitvoerende burgemeester  van die Mosselbaai-munisipaliteit) en Khanyo Mahlulo (departement van bosbou, visserye en omgewingsake) (Foto: Kaapse Forum)

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandeesweek in samewerking met Green for Life, die Mosselbaai Gemeenskapsopkombuis en die Mosselbaai-munisipaliteit 50 inheemse en vrugtebome as ’n lewende monument vir vroulike slagoffers van geslagsgebaseerde geweld by ’n sportterrein in Highway Park, Mosselbaai, aangeplant. ’n Groep vroue, wat self ook slagoffers van geslagsgebaseerde geweld was, het gehelp om dié bome as deel van ’n breër bewusmakingsveldtog oor geweld teen vroue, te plant.

Dié projek is in samewerking met Jan Odendaal van die organisasie Green for Life, ’n vennoot van die Kaapse Forum, van stapel gestuur. William Sam, ’n oudsoldaat en plaaslike gemeenskapsleier wat ’n sopkombuis bestuur en voedsel voorsien aan duisende behoeftige Mosselbaaiers – waarvan nagenoeg 70% hiervan kinders is – het ook aan dié projek deelgeneem.

Volgens Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, het dié organisasie, benewens die fokus op vroulike slagoffers van geweld, ook ’n spesifieke fokus op skole en die verbreking van die armoedesiklus. “Die geheim van die verbreking van die armoedesiklus lê in gehalte-opvoeding, goeie waardes, dissipline en vaardighede wat kinders op skool moet aanleer. Dit bly egter ’n onbetwisbare feit dat hierdie sake nie vir ’n honger kind prioriteit sal wees nie. Daarom vorm voeding ’n sentrale tema in Kaapse Forum se onderwysinisiatiewe,” sê Pieters.

Dirk Kotzé (uitvoerende burgemeester van die Mosselbaai-munisipaliteit) spreek die gehoor toe (Foto: Kaapse forum)

“Dit was verblydend om te sien hoeveel vroue uit die gemeenskap die geleentheid bygewoon het. Dit is ’n bewys van die dringendheid daarvan om kwessies soos geweld en armoede in die gemeenskap te takel. Kaapse Forum sal voortgaan om nie net projekte soos dié aan te pak nie, maar ook sterk standpunt in te neem teen geslagsgebaseerde geweld,” sê Pieters.

Intussen is daar ook ’n skrywe aan die departement van korrektiewe dienste gerig waarin die departement versoek is om weekliks vyf gevangenes beskikbaar te stel om in die tuin waar dié bome aangeplant is, te werk en dit te help versorg.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan [email protected] of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.