Life Esidimeni: Vier vermiste pasiënte gevind

Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid (Foto: Brenda Masilela, ANA)

Vier van die 59 pasiënte, wat tydens die omstrede Life Esidimeni-oorplasing verdwyn het, is opgespoor, het die arbitrasieverhoor oor die projek Woensdag gehoor.

“Vier van die vermiste pasiënte is geïdentifiseer. Sommige was by NRO’s en ander was by die huis en so aan,” het Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid in Gauteng, gesê.

Ramokgopa getuig by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor oor die afsterwe van 144 psigiatriese pasiënte. Sy het verduidelik die 62 vermiste persone wat aanvanklik berig is, was ʼn fout en is op hulle lys. Sy het gesê volgens hulle was daar altyd 59 pasiënte wat as vermis aangemeld is.

Sy het Woensdagoggend gesê sy is in kennis gestel van nog sewe pasiënte wat opgespoor is, maar sy moet dié inligting verifieer. “Ek versoek dat ek die kans gebied word om hierdie groep van 48 aan die proses te onderwerp wat ons in plek gestel het.”

Ramokgopa het bygevoeg sy is opgewonde oor die manier hoe die dinge vorder, aangesien dit beteken dat die departement nader is om die 48 vermiste pasiënte met hul gesinne te herenig.

Afgetrede adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, wat aangestel is om die bemiddeling tussen die regering en die naasbestaandes van die Esidimeni-slagoffers te lei, wou by Ramokgopa hoor of die vermiste pasiënte nog steeds leef.

“Ons kan nie rekenskap gee van hulle nie. Ek hoop dat hulle lewend gevind sal word. Ons het hulle nog nie in lykshuise of in polisie-aanhouding gevind nie,” het sy geantwoord.

Sy het gesê ses direkteure, wat deel was van die onsuksesvolle projek, het skuld beken tydens hul interne dissiplinêre verhoor. “Hulle het almal finale skriftelike waarskuwings ontvang.”

Ramokgopa het gesê sy het versoek dat die sake weer oopgemaak sal word, omdat die sanksie nie met die misdaad ooreenstem nie. “Dis vir my baie moeilik om te verstaan hoe die uitslag van die ondersoek kan wees dat die voorsitter steeds bevoeg is om in sy amp te wees.”

Dr. Barney Selebano, geskorste departementshoof van die Gautengse departement van gesondheid, is by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika aangegee, en die voormalige direkteur van gesondheid, dr. Makgabo Manamela en ander, is by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging aangegee.

Altesaam 144 pasiënte is verlede jaar dood ná hulle van Life Esidimeni na ongelisensieerde nieregeringsorganisasies oor Gauteng heen oorgeplaas is. Meeste het gesterf weens verhongering en verwaarlosing.

“Die Gautengse departement van gesondheid beleef in hierdie stadium ernstige finansiële probleme. Ons is verbind daartoe om met die families in gesprek te tree en te bepaal wat is in hulle beste belang en ons kan steeds dienste aanbied,” het Ramokgopa bygevoeg.

Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, sal na verwagting ná Ramokgopa getuig.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elvira ·

Liewe genade maar dit het hulle lank gevat om die mense op te spoor. Hoe kan so iets gebeur????? Het hulle nie adresse en name gehad waarheen die pasiente uitgestuur was nie.

Francois van der Merwe ·

Tong in die kies ……dit wil voorkom asof ons Wiskundige dilema in Suid Afrika het….almal sukkel om te tel en getalle uittespreuk….Beginne by Pres Zuma….Klink asof 4 lewens nie veel saak maak vir hulle nie..gesienne dat ins wel 144 verloor het.

Johann ·

Blatante arrogante gewetenloosheid! So ewe asof sy van diere of kantoor toerusting praat. Dink ek weet waar hulle is, gee my NOG tyd, dalk is hulle hier of daar, ons dink ons weet waar hulle nie is nie, ander mense moes hulle tel en hulle kan nie tel nie….

SKOKKEND om te moet sien hoe totaal onbevoegd n Departement is, en dat massa moord bloot afgemaak word as niemand se skuld nie. En dis maar een Departement wat ons van weet…

Willie ·

Dit klink so onwerklik… tog is die onbevoegt hier koning! Dis soos n nagmerrie! Hoe weet hulle nie waar die mense is nie, waar is die families? Waar is die rekorts! Nog erger waar is die arrestasies?

Chelle ·

Stem saam Willie. En Waar is daai caregivers/ versorgers wat na die pasiënte moes omsien terwyl hul nie vir hulself kon praat nie? Steeds indiens? Was daar enigsins beeldmateriaal by die fasiliteite? Die lys van vrae word al langer…

Alida ·

As die skandaal nie oopgevlek was nie was die mense nou nog weg of in staatslykhuise. Raak ontslae van ALMAL van die Minister tot die skoonmakers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.