Luister: ‘Musiek is taal van my hart,’ sê Retief Burger

Retief Burger. (Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Lof- en aanbiddingsmusiek is vir Retief Burger baie meer as net ʼn werk. Dit is ʼn leefwyse waarsonder hy nie sy dae aanpak nie.

Dié gospelsanger en pa van drie bieg dat hy in 2023 deur ʼn uitdagende tyd is, maar dat tyd saam met sy gesin en die Here hom daardeur gedra het. Hy is in Januarie verlede jaar met ʼn gewas op sy pituïtêre klier in die brein gediagnoseer, en vandag, meer as ʼn jaar later, getuig hy met ʼn dankbare hart dat hy volkome herstel het.

“Dit gaan goed,” vertel Retief in Maroela Media se ateljee. “Ek het gaan rus saam met my familie in Namibië, waar ek gebore is, en dit was baie goed vir ons.”

Dit was juis tydens dié familiewegbreek, wat ook sy sabbatsverlof was, dat Retief besef het wat volgende vir hom voorlê: ʼn digitale musiekhandleiding vir Afrikaanse kerke reg oor die land.

Hy het eintlik reeds voordat die breingewas by hom gediagnoseer is aan dié idee gedink, hoewel hy nie toe sy volle aandag daaraan geskenk het nie. Dit is sy vriend en medegospelsanger Louis Brittz wat hom vanuit die VSA gebel het en gevra het wanneer hulle weer die leisels van die projek gaan optel.

Nuwe Lof is eintlik ʼn kollektiewe poging om ʼn klomp Afrikaanse Christelike liedjieskrywers bymekaar te kry. Ons het in Augustus verlede jaar skryfnaweke in Kaapstad en Carolina gehou.

“Dit is ʼn poging om nuwe, singbare, Skrifgetroue, Geesvervulde en -geïnspireerde musiek aan kerke te bied.”

Retief en sy gesin in Namibië. (Foto: Retief Burger/Instagram)

Hierdie platform bied nie net nuwe Afrikaanse lof- en aanbiddingsmusiek nie, maar ook die hulpmiddels wat kerke mag nodig hê om die liedjies te gebruik. Kerke kan dié musiek teen ʼn bekostigbare prys aankoop en toegang kry tot die bladmusiek, agtergrondmusiek om die kerk te begelei, liriekvideo’s, ʼn video van ʼn groter orkes wat die liedjie speel en ʼn video van ʼn meer intieme weergawe van die liedjie.

Kerke kan dus self besluit hoe hulle die liedjie wil gebruik en watter Nuwe Lof-hulpmiddels hulle gaan gebruik wanneer hulle lof- en aanbiddingsessies hou. Die musiek is ook volgens temas ingedeel; sodoende kan kerkleiers bloot die webwerf besoek en met gemak die regte musiek kies.

“Dit is ʼn hulpmiddel om vars musiek daar buite te sit – wat aan die kerk vir die kerk geskryf is.”

Bly getrou aan die Woord van God

Retief, wat ook die leraar by Every Nation se Elarduspark-gemeente is, glo dat ʼn mens nimmer as te nooit die krag van aanbiddingsmusiek moet onderskat nie.

“Musiek is die taal van die hart, dit spreek baie diep in jou in. Mense besef nie hoe belangrik Skrifgetroue aanbiddingsmusiek is nie.

“Mens onthou ʼn liedjie veel langer as wat jy ʼn preek onthou. Teologie word deur musiek vir mense geleer. Aanbiddingsmusiek is die klankbaan van my lewe.”

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hy glo ook dat aanbidding nie tot jou binnekamer beperk word nie en dat elke dag vir jou die geleentheid bied om die Here te loof en te prys.

“Ons aanbid die Here in hoe ons mense en kritiek hanteer, hoe jy met jou geld werk en hoe jy moet jou kollegas en mense van ʼn ander ras omgaan. Ek glo met my hele wese dat alles, behalwe sonde, as aanbidding gedoen kan word.

“Ons is gemaak om te aanbid en terug te gee wat ons ontvang het. Solank Hy die middelpunt is en eer daarvoor kry.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Retief Burger.
  • Vir meer inligting oor Nuwe Lof besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.