‘Major’-nuus vir SA ultraveldwedlopers

(Foto: Sam Clark)

Ultraveldwedloop-atlete, gryp na julle hardloopskoene.

Die organiseerders van die Kaapstadse ultraveldwedloop het vandeesweek kragte met sommige van die wêreld se voorste ultraveldwedlope saamgesnoer om die World Trail Majors te vorm – ʼn vereniging wat op die been gebring is om die ontwikkeling van ultraveldwedlope in die regte rigting te stuur.

Die organiseerders van die Kaapstadse ultraveldwedloop sal vanaf volgende jaar by die geledere van organiseerders van ikoniese wedlope soos die Hong Kong 100-ultramarathon, die Black Canyon Ultras, die North Face Transgrancanaria, die Mount Fuji 100, die MIUT – Madeira Island-ultraveldwedloop, die Swiss Canyon-ultraveldwedloop, South Downs Way en die Quebec Mega- ultraveldwedloop, aansluit.

Die World Trail Majors wil ʼn oop en toeganklike etos handhaaf en bou om die oorspronklike waardes van die sport te help bewaar. Die vereniging sal ook wedloop-organiseerders in staat stel om kennis en ervaring oor die sportsoort onder mekaar uit te ruil.

Stuart McConnachie, wedloopdirekteur van die Kaapstadse ultraveldwedloop, sê die organiseerders van dié wedloop is baie trots om deel te wees van ’n vereniging wat diversiteit as een van die doelwitte vier.

“Onafhanklike wedlope het hul plek in die wêreld van veldhardloop; deur mekaar se plek te ondersteun, te deel en te erken, werk ons saam om die nalatenskap van ons sport voort te sit op ʼn onafhanklike manier wat die grondslag van hierdie sport is.”

McConnachie sê die World Trail Majors sal ʼn “nuwe, alternatiewe pad van groei bied” vir hierdie vinnig ontwikkelende sport wat “ongekompliseerde reëls vry van die beperkings wat inherent aan baie sportsoorte is”, behels.

Die Kaapstadse ultraveldwedloop vind volgende naweek (24 tot 26 November) plaas.

Verlede jaar se wenner Fotis Zisimopoulos van Griekeland (166km) (Foto: Roy Poterrll)

Dié wedloop is in 2014 vir die eerste keer aangebied en bied aan ultraveldhardlopers van meer as 66 lande, waaronder Frankryk, Engeland, die VSA, Duitsland en Italië, die geleentheid om Tafelberg en die Skiereiland te voet te deurkruis.

Die wedloop het oor die jare ontwikkel van slegs 16 deelnemers wat die 100 km-wedloop in 2014 voltooi het, tot meer as 2 000 hardlopers wat vanjaar gaan deelneem. Deelnemers kan kies tussen vyf afstande: 23 km, 35 km en 55 km, 100 km en 166 km (100 myl).

Sidónio Freitas, wedloopdirekteur van MIUT-Madeira Island-ultraveldwedloop, sê die organiseerders van dié wedloop is geëerd en bevoorreg om deel te wees van die World Trail Majors, “ʼn gesogte versameling wedlope wat die ware gees van veldhardloop ten toon stel”.

“Hierdie ikoniese gebeurtenisse oor die wêreld heen daag nie net hardlopers uit en inspireer hulle nie, maar bevorder ook ʼn wêreldwye gemeenskap van roete-entoesiaste wat die skoonheid en avontuur van veldhardloop waardeer. Om deel te wees van hierdie elite-groep weerspieël ons toewyding om ʼn uitsonderlike velddraf-ervaring te bied en bevestig ons toewyding aan die sport

“Ons is opgewonde om by die geledere van hierdie wêreldbekende wedlope aan te sluit en sien daarna uit om hardlopers van alle uithoeke van die wêreld te verwelkom om saam met ons in die avontuur te deel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.