Staatsaanklaer Susan Galloway het aan die hof gesê Maspero wag steeds op ʼn bed in die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal. Volgens haar is Maspero nommer 37 op die waglys.
Galloway het regterpresident John Hlophe gevra om die saak tot 5 Maart uit te stel. Hlophe het Maspero gewaarsku om by sy borgvoorwaardes te hou.
Die hof het verlede jaar beveel dat Maspero vir sielkundige waarneming gestuur moet word, nadat sy regsverteenwoordiger, William da Grass, gesê het sy kliënt sukkel om vir hom instruksies te gee. “Hy kan nie die materiële aspekte van die misdryf onthou nie en dit is as gevolg van die langdurige gebruik van dwelms,” het Da Grass destyds gesê.
Da Grass het aangevoer Maspero het vir ʼn verlengde tydperk tik gebruik. “Sy brein is beskadig as gevolg van die dwelmgebruik. Ek dink dit is die eenvoudigste manier om dit te stel,” het hy gesê.
Die aanklagte teen Maspero se medebeskuldigde, Godfrey Scheepers (20), is verlede jaar teruggetrek.
Theron se dogter, Phoenix Racing Cloud (19), het ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Sy het erken dat sy haar kêrel [Maspero] gehelp het om haar ma met ʼn tou te verwurg op 7 Maart 2013. Sy is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.