Maties-professor weer op Time100-lys

Prof Tulio de Oliveira (Foto: Stefan Els)

Time Magazine het prof Tulio de Oliveira in sy eerste 2024 Time100 Health-lys erken, ‘n nuwe jaarlikse lys wat 100 individue vier wat vanjaar die grootste impak op internasionale gesondheid gehad het.

Hierdie erkenning, soos bepaal deur Time se internasionale netwerk van redakteurs, denkleiers en vorige vereerdes, is De Oliveira se tweede verskyning op Time se invloedryke ranglys, en volg op sy insluiting in die 2022 Time100-lys van die wêreld se invloedrykste mense. Klik hier vir die volledige 2024 Time100 Health-lys en klik hier vir De Oliveira se plasing.

De Oliveira is ‘n wêreldbekende wetenskaplike op die gebied van genomika. Hy is die direkteur van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (Ceri) aan die US, direkteur van die KwaZulu-Natal Navorsingsinnovasie- en Volgordebepalingsplatform (Krisp) aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) en adjunkdirekteur van die genomiese toesigeenheid by die Wellcome Sanger-instituut in die Verenigde Koninkryk.

De Oliveira het in 2021 ‘n grensverskuiwende multidissiplinêre span navorsers en wetenskaplikes gelei in die ontdekking van die Omikron-variant van SARS-CoV-2 wat vinnig na vore getree het as die dominante globale variant van dié virus. In 2020 het hy die span gelei wat die SARS-CoV-2 Beta-variant ontdek het. De Oliveira het die afgelope dekades verskeie netwerke van wetenskaplikes in Suid-Afrika en Afrika gelei en in 2023 het hy die konsortium Climate Amplified Diseases and Epidemics (Climade) bekendgestel. Dit is ‘n wêreldwye konsortium om siektes en patogene wat deur klimaatsverandering versterk word, te karakteriseer.

Prof Sibusiso Moyo, viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies aan die US, het in reaksie op hierdie merkwaardige prestasie gesê: “Prof Tulio de Oliveira se onvermoeide toewyding aan die bevordering van wetenskaplike kennis en sy uitsonderlike leierskap op die gebied van genomika en bioinformatika is ‘n voorbeeld van die gees van innovasie en samewerking wat ons instelling definieer.”

De Oliveira sê hy voel uiters geëerd om weer eens deur Time Magazine erken te word en om opgeneem te word in die prestigeryke Time100 Health-lys van 2024. “Hierdie erkenning beklemtoon die belangrikheid van samewerkende navorsingspogings om globale gesondheidsuitdagings die hoof te bied.”

Prof Tulio de Oliveira (Foto: Stefan Els)

Hy het sy dank uitgespreek en bygevoeg: “Toe ek sien die Covid-19-pandemie is besig om af te neem, het ek besluit om saam met ons span van meer as 100 wetenskaplikes in Suid-Afrika en saam met die grootste genomika-fasiliteit ter wêreld, die Wellcome Sanger-instituut, te werk om ‘n nuwe werkprogram te skep, hierdie keer om die veelvuldige siektes wat deur klimaatsverandering vererger word, te beveg. Dit sluit siektes soos dengue, chikungunya, die Zika-virus, griep en cholera in.”

De Oliveira het reeds talle toekennings in sy loopbaan ontvang vir sy bydraes tot navorsing oor openbare gesondheid en aansteeklike siektes. Benewens die feit dat hy deur die vaktydskrif Nature aangewys is as een van die top tien mense wat in 2021 gehelp het om die wetenskap te omvorm, is hy ook by die MIT Technology Review-lys ingesluit as een van die leiers van die toptien-deurbraaktegnologieë in 2022. Hy het ook die Lifetime Leadership Award van Discovery Health ontvang en het die Orde van Meriete-medalje van die Portugese president, die goue medaljetoekenning van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) en die Batho Pele-toekenning van die Suid-Afrikaanse regering vir sy bydraes tot die samelewing ontvang en was in 2022 die wenner van die Duitse Afrika-prys. Sy verbintenis tot uitnemendheid en innovasie inspireer kollegas en navorsers wêreldwyd.

  • De Oliveira is ook professor in bioinformatika aan die US Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en verbonde aan die fakulteite Natuurwetenskappe en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

Die covid-kundige se hare blink mooi in die onderganende Stellenbosch-sonnetjie.

OneWheel ·

Hoe om woke toekennings en lofbetuiginge te ontvang deesdae? Noem net klimaatsverandering en C@vid in een sin…

Petrus Albertus ·

Dis mos dieselfde man wat in Mei 2022 getwiet het dat Stellenbosch Afrikaans moet laat vaar sodat rassisme kan stop! Gelukwense is seker in orde maar mens voel maar nie lekker daaroor nie.

gatgogga ·

In plaas daarvan om die man geluk te wens, is die kommentaar hier neerhalend en venynig. Geen wonder dat die wereld niks oor het vir ons ou suur nasietjie nie.

Ronél ·

@gatgogga………..dit maak my ook sommer naar. Welgedaan Prof.

Petrus Albertus ·

@Gatgogga, ek hoor jou, maar indien Prof. de Oliviera hom by sy lees gehou het en nie sy posisie misbruik het om politiek te bedryf nie, sou dit heel moontlik ‘n ander saak gewees het né. Dalk is Afrikaners maar net moeg om voortdurend ondermyn te word, selfs uit onverwagse oorde soos hierdie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.