Meer as 700 instellings vra al SEB-vrystelling

(Argieffoto: pixabay)

Honderde staatsinstellings het sedert Februarie danksy Sakeliga se hofsaak teen die 2017-voorkeurverkrygingsregulasies al besef dat hulle nie aan voorkeurverkrygingsvereistes gebonde hoef te wees nie en dat die regulasies onwettig swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en plaaslike inhoudkriteria vir staatsorgane verplig het.

“Rekords wat Sakeliga kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die minister van finansies bekom het, wys dat die nasionale tesourie sedert ons hofoorwinning in Februarie meer as 700 versoeke ontvang het van staatsorgane om vrygestel te word van die minister se voorkeurverkrygingsmaatreëls.”

Die rekords wys ook dat die tesourie die uitsonderings deur die bank toegestaan het.

“Klaarblyklik was die administratiewe druk vir uitsonderings so groot, dat dít alleen reeds ʼn belangrike rede was waarom die minister van finansies [Enoch Godongwana] sy regulasies sonder SEB- en plaaslike inhoudsvereistes moes promulgeer,” sê Le Roux.

Godongwana het verlede week regulasies in die Staatskoerant bekend gemaak wat staatsbeheerde instellings (SBO’s) vrystel van SEB-vereiestes wanneer hulle tenders toeken. Daar word in die regulasies egter steeds verwys na “spesifieke doelwitte” wat kan insluit kontrakte aan spesifieke mense of kategorieë mense wanneer tenders toegeken word. Dit sluit in voorheen benadeelde groepe.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week in die parlement gesê breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en ander transformasiebeleid is ingestel om die ongelykheid van die verlede reg te stel.

Volgens die president was dit ook nodig vir ekonomiese groei en werkskepping deur die ekonomie oop te stel vir swart sakelui en entrepreneurs. “Om hierdie rede sal die inwerkingstelling van transformasie- en bemagtigingsbeleid voortgaan om ʼn inklusiewe ekonomie te skep.”

Daar word egter al jare lank volgehou dat die voorkeurverkrygingsbeleid talle tenders onnodig duur maak.

Eskom, minerale hulpbronne vra reeds vrystelling

Die besonderhede wat Sakeliga danksy die Paia-aansoek bekom het, wys ook dat die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, en Eskom-hoof André de Ruyter reeds in 2020 en verlede jaar onafhanklik van mekaar probeer het om vrystelling van voorkeurverkrygingsregulasies te bekom.

Mantashe se aansoek het gewentel om die risiko-verligtingsprogram by onafhanklike kragprodusente (RMIPPP). Die minister het aangevoer die vrystelling van voorkeurverkrygings sou verskeie voordele inhou. Dit sluit in dat dit in die openbare belang sou wees, ekonomiese ontwikkeling tot gevolg sou hê, die beste waarde vir geld vir die land verseker en nodig is omdat tenderaars waarskynlik internasionale verskaffers wou wees.

Mantashe het in die aansoek ook aangevoer kwytskelding is nodig omdat die tenders andersins “vatbaar vir manipulasie en korrupsie sou wees omdat dit ʼn internasionale maatskappy dwing om ʼn Suid-Afrikaanse vennoot te vind (selfs al voldoen die vennoot nie werklik aan vereistes nie) en dat die vrystelling sou help met wat andersins “uitgerekte onderhandelings” is wat die projek vertraag.

Tito Mboweni, destyds die minister van finansies, het egter in Desember 2020 die aansoek vir “bemagtigingsdoeleindes” afgekeur.

By Eskom het die vrystelling verband gehou met onderhoud en diens aan die kragvoorsiener se kragsentrales, ʼn diens wat gelewer word deur Eskom Rotek Industries (ERI). De Ruyter het in sy aansoek gevra dat ERI van verskeie voorkeurverkrygingsregulasies vrygestel word omdat dit ERI sal toelaat om beter te presteer en ʼn beter diens te lewer. Dit sou ook tot kostebesparings bydra.

De Ruyter het in die aansoek ook gevra dat “die subkontrakteringsbeperking van 25% verwyder moet word” en sê in sy aansoek dat voorkeurverkrygingsvereistes tot skade van miljoene rande én kragonderbrekings bygedra het.

Dit is nie duidelik wat die besluit oor De Ruyter se aansoek om vrystelling was nie, maar Le Roux sê in die lig van Sakeliga se verslag hoef dit nie bepalend te wees nie.

“Ingevolge Sakeliga se verslag het nie net die staatsorgane wat sedert Februarie 700 vrystellingsaansoeke ingedien het nie, maar ook Eskom en minister Mantashe die geleentheid om – ongeag die minister van finansies – hul eie besluite oor normale verkryging te neem.

“Presies die vrystellings wat hulle in 2020 wou bekom was en bly inderwaarheid binne hul bereik, onderhewig slegs daaraan dat hulle self besluit om nie voorkeurverkryging toe te pas nie. In Sakeliga se verslag fokus ons veral daarop om duidelik te maak hoe en waarom munisipaliteite ook hul eie verkrygingsbeleide so kan bepaal,” sê Le Roux.

Swart sakelui ‘teleurgesteld’

Die Black Business Council (BBC) het egter sy teleurstelling oor die regulasies te kenne gegee en gekap na die verwydering van sogenaamde plaaslike inhoud en die vervanging daarvan met “spesifieke doelwitte”.

Die raad sê die minister skuif die verantwoordelikheid oor verkrygingsregulasies nou af op ander staatsinstellings wat self hul transformasieteikens moet bepaal. Die BBC sê die meeste “staatsinstellings gaan kies om niks aan ekonomiese transformasie en plaaslike inhoud te doen nie”.

“Die BBC waarsku die regering dat die meeste mense nie aanhoudend toeskouers in die ekonomiese ruimte van hul eie land kan wees nie.”

Die organisasie het ook ʼn beroep op die minister gedoen om die wetsontwerp oor openbare verkryging te onttrek totdat alle kwessies daaroor gepak kan word. Die wetsontwerp is gemik daarop om die huidige Wet op die Voorkeurverkrygingsraamwerk te vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Bertie ·

Ek is nie verbaas die BBC is teleurgesteld nie. SEB het slegs korrupsie en onbevoegdheid bevorder, niks anders nie. Die speelveld moet maar gelyk vir almal wees. Dis mos maar bloot regverdig?

B-Man ·

Baie van die BBC-lede het ook maar lekker voordeel getrek uit SEB-beleid.

Harley Davidson ·

En wie gaan die huidige benaadeelde minderhede bystaan wat gebuk gaan onder diskriminasie agv hulle velkleur?

Kokerboom ·

Wonderlike verwikkeling. Moes in eerste plek nooit plaasgevind het nie . Het massiewe ekonomiese terugslag vir land tot gevolg gehad
Die BBC se inslag is so rassisties dat hul wel sal kla. Dae van dinge verniet kry op grond van jou velkleur is getel!

JohanR ·

Ek hoop rerig ek is nog aan die lewe die dag dat ons totsiens aan die ANC waai! Die NP was miskien met tye nutteloos oor hulle 40 jaar in beheer, maar die ANC is al 38 jaar net nutteloos! Die NP het darem gebou en onderhou. Die ANC het net alles afgebreek en vernietig!

Herman L ·

Volgens die president is breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en ander transformasiebeleid ingestel om die ongelykheid van die verlede reg te stel. Dit het daartoe gelei dat die ekonomie nie groei nie en gevolglik is daar nie werk vir die miljoene werkloses nie. Of dink die president dat die toelae wat hulle kry gelyk is aan bemagtiging?

OW ·

Ek dink nie die president dink enige iets nie,wat ek wel weet is dat hy die apartheids voertuig teen hierdie tyd vodde gery het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar gaan binnekort nuwe regulasies uitgevaardig word wat erger is as SEB.

Blikkies ·

Ramaphosa sê dit was “nodig vir ekonomiese groei en werkskepping…” Ek verstaan nie sy verduideliking nie? Watse ekonomiese groei het SEB vereistes voor gesorg, en watse werk het dit geskep vir die normale swart persoon op straat? In 28 jaar absoluut Niks nie. Net vir die ANC Kaders om al die tenders te gryp in die Staat en Privaat Sektor. Meeste swart mense sit nog steeds sonder werk wat geskep sou word. Ek hoop die Groter Maatskappye laat vaar ook SEB.

Alex ·

Ekonomiese groei en werks skepping… yeah right! Tot dusver sien ons hoe dit werk. Waar is die Rand Dollar heen en ons groot instellings. SAL, Poskantoor, Munisipaliteite, Sppor diens, weermag, en ek kan aangaan…

Jacobus ·

Ons eie president se rykdomme, is die gevolg van SEB, hy het nie een dag vir sy skatte gewerk nie, en is ook nie so ‘n suksesvolle sakeman, soos die media ons wysmaak. Ek wonder steeds watter gemeenskappe het voordeel getrek uit die miljoene wat hy gratis ontvang het? Die idee van SEB was seker om behoeftige swart mense se onstandighede te verbeter.

Jacques Dawie ·

Aangaande die Black Business Council (BBC), ek kry geen rekord van n White Business Council om vas te stel of hul ook hul opinie te kenne wil gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.