Meer kontakmisdaad, minder verkragtings in die Oos-Kaap

(Foto: Shutterstock)

Die misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van 2023/2024 vir die Oos-Kaap is bekendgemaak.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het in haar toespraak die polisie se toewyding benadruk om misdaad te bestry.

“Ons erken die uitdagings wat deur die styging in misdaad veroorsaak word en sal ʼn omvattende strategie implementeer om dit te takel. Terselfdertyd vier ons die suksesse in die afname van misdaad in sekere kategorieë en ons sal onverpoosd bly werk om dié positiewe neigings te laat voortduur. Dit is deur die toename van sigbare polisiëring en ontwrigtende operasies wat hoëmisdaadgebiede teiken waar ons verbeterings begin sien.”

Xolile Nqatha, LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, het Vrydag die misdaadstatistieke in Matatiele bekendgemaak. Die misdaadstatistieke dek die periode 1 April tot 30 Junie 2023.

“Ek neem met kommer kennis die toename in kontakmisdade,” het Nqatha gesê. Altesaam 15 752 kontakmisdade is tydens die eerste kwartaal van 2022/2023 aangemeld in vergelyking met 15 927 gevalle in 2023/2024.

“Ons verwelkom die 2,6%-afname in verkragting tydens hierdie kwartaal. Ek betuig my grootste dankbaarheid aan die polisie wat die misdadigers aangekeer het wat beskuldig word daarvan dat hulle ernstige misdade gepleeg het, insluitend massamoord en skietery in die provinsie. Meer werk moet nog gedoen word om hardnekkige misdaad te verminder, maar ons wens die polisie ook geluk dat hulle misdaad in ons provinsie bekamp.”

Altesaam 37 708 misdade is tydens die eerste kwartaal van 2022/2023 aangemeld in vergelyking met die 37 427 misdade tydens die eerste kwartaal van 2023/2024.

Ernstige misdaad het met 280 gevalle afgeneem (0,7%).

Vyf van die agt distrikte het ʼn toename in ernstige misdaad aangemeld terwyl Amathole, Buffalo City Metro en Sarah Baartman-distrikte afnames getoon het.

Die topvyf stasies wat as brandpunte in ernstige misdaad geïdentifiseer is, is Oos-Londen (landswyd in die 18de posisie), Mthatha, Humewood, Cambridge en Mount Road.

Die volgende misdade in die kategorie kontakmisdaad het toegeneem: poging tot moord (6,7%), aanranding met die doel om ernstig te beseer (4,2%), aanranding (5,7%), roof (3,9%).

In die misdade moord, seksuele oortredings en roof met verswarende omstandighede is afnames aangemeld van onderskeidelik 5,1%, 4,5% en 4,5%.

Trio-misdade het ʼn afname getoon van 5,3% terwyl motorkaping en sakeroof onderskeidelik ʼn afname van 3% en 17,5% getoon het. Huisroof het toegeneem met 8,3%.

Onder seksuele oortredings was daar ʼn afname in verkragting (2,6%), seksuele aanranding (23,6%) en seksuele kontakmisdaad (27,3%). Poging tot seksuele oortredings het toegeneem met 28,4%. Die topvyf stasies wat as brandpunte in verkragting geïdentifiseer is, is Mthatha (tweede nasionaal), Lusikisiki (elfde nasionaal), Ngqeleni (in die 16de plek landswyd), Idutywa en Mbizana.

Daar was ʼn afname van 5,1% in moordgevalle in die provinsie. Slegs twee distrikte het ʼn toename in dié kategorie van misdaad aangemeld, naamlik Nelson Mandelabaai (17,8%) en Joe Gqabi (26,2%). Die topvyf stasies wat as brandpunte geïdentifiseer is in moordsake, is ook op die nasionale lys van problematiese stasies: Mthatha (negende nasionaal), Kwazakhele (10de nasionaal), Kwanobuhle (16de nasionaal), Motherwell (20ste nasionaal) en New Brighton (in die 29ste plek landswyd).

ʼn Volledige verslag van die eerste kwartaal misdaadstatistieke vir die Oos-Kaap is hier beskikbaar.

Oor dieselfde periode het die polisie se herwinningsplan ook positiewe uitslae opgelewer ná ʼn rits operasies (stop-en-deursoek, padblokkades en voertuignasienpunte). Altesaam 65 250 is in die agt distrikte van die provinsie uitgevoer. Die polisie het op 358 vuurwapens beslag gelê waarvan 22 gewere was soos AK 47’s. Minstens 13 springstoftoestelle is ook gekonfiskeer. Altesaam 46 720 drankwinkels is besoek waarvan 105 gesluit is vir verskeie oortredings van die Oos-Kaapse Drankwet of die oortreding van munisipale wetgewing. Meer as 198 000 liter alkohol is gekonfiskeer. Altesaam 15 167 verdagtes is aangekeer vir verskeie misdade tydens dieselfde periode.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.