“[Die paroolraad se] aanbeveling sal nie openbaar gemaak word nie,” het Mthunzi Mhaga, Masutha se woordvoerder, gesê. Volgens hom sal die minister binnekort die paroolraad se aanbeveling ontvang. “Die minister sal dan op 31 Januarie ʼn aankondiging maak.”
De Kock se regspan en die minister het in November ʼn ooreenkoms in die hooggeregshof in Pretoria aangegaan waarvolgens die paroolraad tot 19 Desember tyd het om ʼn aanbeveling te maak.
Regter Letty Molopa-Sethosa het die ooreenkoms ʼn bevel van die hof gemaak. Daar is ook ʼn soortgelyke ooreenkoms bereik vir die apartheidsmisdadiger Ferdi Barnard. Hy is in 1999 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op David Webster.
Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het, soos in die geval met De Kock, tot 19 Desember tyd om ʼn aanbeveling te maak of Barnard op parool vrygelaat moet word. Minister Masutha moet ook teen 31 Januarie in die verband ʼn besluit neem.