Minister versoek om in te gryp by ‘smeerveldtog’

(Foto: Facebook/Unisa)

Namate meer besonderhede na vore kom oor die “smeerveldtog” teen dr. Reshma Mathura, Unisa se waarnemende viserektor vir finansies, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid ʼn beroep op dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, gedoen om in te gryp.

Maroela Media het vroeër berig Mathura het ʼn strafregtelike klag by die Valke ingedien om ʼn “sameswering” te ondersoek wat haar valslik by ʼn misdaad impliseer.

Dit kom nadat sy op 2 April kennisgewings ontvang het van vier ongevraagde betalings van R330 elk wat in haar private bankrekening inbetaal is.

Binne enkele ure het sy met haar bank gepraat en die name van vier mense gekry wat die betalings gedoen het. ʼn Oorsigtelike ondersoek het aan die lig gebring dat dié name gelys is as studente wat op NSFAS-toelaes wag. Mathura is verantwoordelik om die uitbetaling van daardie fondse te magtig.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê toevallig is ʼn anonieme verslag van ʼn fluitjieblaser kort daarna aan Unisa gestuur waarin Mathura daarvan beskuldig word dat sy omkoopgeld van studente aanvaar. Vier deponeerders se kennisgewings van betaling is by die verslag aangeheg.

“Prof. Puleng LenkaBula, visekanselier van Unisa, het Mathura op 19 April op verskeie gronde geskors, veral in reaksie op die fluitjieblaserverslag. Die privaatvervolgingseenheid het sy kliënt ingelig dat die fluitjieblaserverslag en gepaardgaande ongevraagde deposito’s in haar private bankrekening deel is van ’n komplot om haar uit haar pos te laat verwyder.

“As Mathura se regsverteenwoordiger is die eenheid nou deeglik ingelig oor haar rol in reaksie op ʼn artikel 205 van die Strafproseswet- dagvaarding wat vroeg in Februarie deur die Valke op die instelling beteken is,” sê Bateman.

Mathura is gevra om besonderhede van vyf Unisa-personeellede sowel as ʼn onderneming in te samel. Dit is een van minstens twee Valke-ondersoeke na bedrog en korrupsie wat verband hou met tenderbedrog.

Bateman sê die privaatvervolgingseenheid het briewe aan LenkaBula en dr. Daniel Mosia, voorsitter van Unisa se raad, gerig.

“Mosia se onbevredigende reaksie, van ʼn prokureur, het ons daartoe gelei om Nzimande te nader.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, sê in ʼn brief aan Nzimande die feite toon dat Unisa se bestuur blitsvinnig teen Mathura opgetree het deur haar te skors en ʼn strafregtelike klag in te dien.

“Tog staan dieselfde bestuur al jare stil nadat hulle opeenvolgende forensiese ondersoekverslae ontvang het wat deur betroubare regs- en ouditeursfirmas gedoen is wat talle personeellede, insluitend senior bestuurders, by korrupsie van miljoene rande betrek.

“Hierdie teenstrydighede kan slegs verklaar word as ons aanvaar dat Unisa se bestuur se motief is om dr. Mathura te teiken vanweë haar toewyding om wangedrag binne Unisa se geledere te identifiseer en te hanteer,” sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.