Minstens 20 vas oor betogings in Kaapstad

Honderde mense neem deel aan ʼn grondbesettingsbetoging in Ou Paarlweg naby Bloekombos in Kraaifontein (Julie 2020) (Foto: Henk Kruger/African News Agency/ANA)

Minstens 20 persone is in Kaapstad in hegtenis geneem tydens gewelddadige betogings in Philippi-Oos en Kraaifontein.

Die betogings het begin toe groepe inwoners strate versper het met rommel en buitebande, wat aan die brand gesteek is. Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, het gesê die betogings het geëskaleer en polisiebeamptes is met klippe bestook. ʼn Golden Arrow-bus en ʼn vraghouer, wat as ʼn kantoor gebruik is, is aan die brand gesteek.

“Lede van die gemeenskap van Siyangena- informele nedersetting in Philippi-Oos het Donderdagoggend vroeg die strate ingevaar teen ʼn gebrek aan elektrisiteit in die gebied,” het Potelwa gesê.

Verskeie strate tussen Govan Mbekiweg en New Eislebenweg is vroegoggend gesluit, maar is intussen weer oopgemaak.

“Die persone, wat in hegtenis geneem is, sal na verwagting binnekort in die hof verskyn,” het Potelwa bygevoeg.

ʼn Groep van ongeveer 50 vroue het intussen in Houtbaai begin betoog waar paaie ook versper is. Die betogers bekla ʼn gebrek aan werksgeleenthede vir inwoners van Imizamo Yethu.

In ʼn onverwante voorval was daar ook ʼn swaar polisieteenwoordigheid in Maroela- en Ou Paarlweg in Kraaifontein waar Stad Kaapstad se wetstoepassers onwettige strukture op ʼn stuk grond in Bloekombos verwyder. Buitebande is aan die brand gesteek en polisiebeamptes is met klippe bestook terwyl die strukture afgebreek is. Nege persone is in hegtenis geneem.

Potelwa het gesê die polisie monitor steeds die onderskeie gebiede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.